Tragiese einde vir egpaar wat van miljoene se bedrog aangekla is

Polisie en nooddienste op die toneel by die uitkykpunt in Jacobsbaai waar die Umans-egpaar dood aangetref is.
Polisie en nooddienste op die toneel by die uitkykpunt in Jacobsbaai waar die Umans-egpaar dood aangetref is. Foto: Alida Buckle.

Jacques Umans (66) en sy vrou, Marlene Umans (68), moes Maandag, 31 Augustus, in die hof verskyn het op aanklagte van bedrog, kuberbedrog en geldwassery. In plaas daarvan is hulle dood met skietwonde op ’n piekniekbankie in Jacobsbaai gekry.

Dié uitkykpunt is ’n gewilde bestemming vir stappers en toeriste omdat dit terselfdertyd ’n uitsig oor die see en die dorpie se wit huise bied.

Die Umans-egpaar is vroegoggend langs mekaar op die bankie ontdek met ’n Spaans-vervaardigde 9 mm-pistool op Jacques se skoot.

Die egpaar, oorspronklik van Citrusdal, was die afgelope maande bekende gesigte by verskeie Weskus-markte waar hulle Kardoes-biltong en soms perskes by hul stalletjie verkoop het.

Die polisie en ander nooddienste is vroeg Maandagoggend na die uitkykpunt ontbied, waarna ’n volledige forensiese ondersoek op die toneel gedoen is. Speurders van die Saldanha-polisie ondersoek die omstandighede rondom die egpaar se dood. Dat die Umans-egpaar hul eie lewens geneem het, is een van die moontlikhede wat die speurders ondersoek.

’n Videogreep van ’n sosialemediaonderhoud vroeër vanjaar met Jacques Umans (links) en sy vrou, Marlene.
’n Videogreep van ’n sosialemediaonderhoud vroeër vanjaar met Jacques Umans (links) en sy vrou, Marlene.

Bedrogklag van meer as R7 miljoen

Die Umans was veronderstel om op dié noodlottige dag, saam met hul dogter, vir die eerste keer op aanklagte van bedrog, kuberbedrog en geldwassery in die hof te verskyn. Die dogter se naam is aan Weslander bekend, maar sy kan eers geïdentifiseer word sodra sy in die hof verskyn.

Volgens kapt. Tania Helfrich, die distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, het ’n sakeman van Citrusdal ’n klagte aangemeld oor R7 355 651 wat tussen 2020 en 2021 uit sy onderneming verduister is. Dokumente is glo vervals.

Die Toringkie, soos wat dié uitkykpunt onder inwoners bekend is.
Die Toringkie, soos wat dié uitkykpunt onder inwoners bekend is. Foto: Alida Buckle.

Die beweerde ongerymdhede het tydens ’n oudit van die onderneming se boeke aan die lig gekom.

Die egpaar en hul dogter is op Woensdag, 12 Augustus, amptelik aangekla. Die dogter gaan nou alleen in die beskuldigdebank staan op Maandag, 26 Oktober.

Die polisie-ondersoek na die tragiese voorval duur voort.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos