Oogpunt: Sy’s g’n Alice in Wonderland

Duitsland.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Die kollektiewe Europese politieke establishment is tot in hul diepste wese geruk deur die wegholoorwinning van Alice Weidel en haar mede-leiers se verregse AfD in die Duitse deelstaat Saxony-Anhalt.

“Rückkehrmigration” – remigrasie – is die kernwoord van die party se opmars, wat tans ook in nasionale meningspeilings voorloop.

Alle onwettige en misdadige immigrante moet binne dae ná ’n bewindsoorname in ’n massa-deportasie uit Duitsland gegooi word, as ’n begin. Hoewel met ’n sterk nasionalistiese, regse en anti-immigrasie inslag, gaan dit in wese oor die ekonomie.

Altesame 65% van Saxony-­Anhalt se spesifieke groep inwoners, wat hul persoonlike finansiële sake as swak beskryf, het vir die AfD gestem. Daarom is duur gaspryse weens sanksies teen Rusland en die gevolge van Rusland se oorlog in Oekraïne ’n kwessie. Die kiesers is gemaklik daarmee dat Russiese gas gekoop word en steun die AfD se “dit is nie ons oorlog nie” – dit in skrille kontras met die konserwatiewe Christen Demokratiese Friedrich Merz, Duitse bondskanselier, se duur opbou van die weermag, waarskuwings van diensplig vir mans en voorspellings dat oorlog met Rusland om die draai is.

Alice Weidel.
Alice Weidel. Foto: Getty Images.

Die 43,8% van die stemme wat die AfD behaal het, is bykans dubbel hul vorige uitslag en Merz se Christelike Demokratiese Unie (CDU) is afgemaai tot 18%. Duitsland se hoofstroompartye – en ook Merz – weier om in enige regering met die AfD saam te werk. Die party se nuwe meerderheid is nie ge­noeg om ’n regering op hul eie saam te stel nie en dreig dat ’n verkiesing weer gehou moet word as dit nie moontlik is nie.

Ironies doem die beeld van die ideologiese punte van ’n politieke hoefyster weer op, want ’n verlinkse party, die Bundestag Sahra Wagenknecht Alliance, met 5% van die stemme, wil graag help. Hulle is ook ten gunste van ’n Russiese paaibeleid en teen immigrante.

Ná pres. Donald Trump van Amerika se oorwinning en verskeie regse suksesse in Europa, is ’n nuwe dagbreek van ’n konserwatiewe en selfs regse toekoms vir die oorblywende Westerse wêreld deur sommige ontleders aangekondig.

Maar in Nederland en Hongarye is diegene vinnig weer deur die kiesers uitgeskop toe hulle nie die ekonomie kon regruk nie. Dieselfde rede geld waarom Amerikaanse kiesers tans vinnig belangstelling in Trump verloor en van sy jonger New Yorkse kiesers vir die sosialistiese Zohran Mamdani as die stad se burgemeester gestem het.

Wes­terse kiesers steur hulle duidelik nie soveel aan ideologiese sentiment as ekonomiese oorlewing nie. Veral die nuwe generasies het nie ’n saak met links, regs, konserwatief of sosialisties nie. Hulle soek wie ook al die oortuigendste ekonomiese boodskap bring. En hoewel ondergeskik daaraan, is mededinging om skaars bronne en onveiligheid weens immigrante ook ’n faktor.

Hoewel konserwatiewe kiesers in die Weste en ook in Suid-Afrika hoog opgee oor tradisionele gesinswaardes, Christenskap en kerke skeur oor die gay-kwessie, sal dit interessant wees wat die reaksie op Weidel is. Dié kleindogter van ’n Nazi-regter is ’n agnostikus en getroud met ’n vrou van Sri Lankaanse afkoms, wat in Switserland woon. Of gaan dit alles net oor die eko­nomie?


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos