RSG se geliefde Magdaleen Krüger groet ‘Loof die Here’ ná 7 jaar

Magdaleen Krüger.
Magdaleen Krüger. Foto: Verskaf.

Luisteraars van die gewilde program RSG-program Loof die Here, sal die laaste Sondag van hierdie maand vir die geliefde Magdaleen Krüger as aanbieder moet groet.

Krüger wil in die goue jare van haar lewe meer reis, by ander aktiwteite betrokke raak, kuier en “van tyd tot tyd sommer net niks doen nie.”

Loof die Here is ’n uitersgewilde program op RSG en het reeds in 1972 begin uitsaai. Toe was dit bekend as Alle volke loof die Here met Fanie Smit, wat die program vir 44 jaar aangebied het.

Loof die Here is een van daardie programme wat van geslag tot geslag geluister word,” sê Krüger.

“Dit begin dikwels met kinders wat dit in hul ouerhuis oor die radio gehoor het en later ook hulle kinders daarna laat luister het, en so word dit ’n siklus, ’n sterk radio-tradisie wat bly voortbestaan,” sê sy.

Vir Krüger was haar tyd om dié program aan te bied ’n “heerlike, verkwikkende taak” wat sy sy beslis gaan mis.

“Die lekkerte was ook om soms die luisteraars aan iets nuuts bekend te stel, maar dit moes altyd ’n mooi wysie hê, mooi op die oor val.

“Luisteraars het ook van hulle laat hoor en radiovriende geword. Wanneer ek in die publiek rondbeweeg het, gekuier het of funksies bygewoon het, was ek altyd verheug om te hoor hoe baie mense na Loof die Heer luister, en hoe wyd daar na RSG geluister word.”

Hoewel sy die program en veral die luisteraars gaan mis, sien sy uit na die nuwe avonture wat voorlê.

Krüger se loopbaan het by die destydse SAUK as nuusverslaggewer begin. Sy was ook onder meer regisseur en redakteur van Monitor en Spektrum voordat sy uiteindelik vir sowat 15 jaar as RSG se stasiebestuurder gewerk het.

Vir RSG se huidige stasiehoof, Louise Jooste, is Magdaleen se afskeid ’n geleentheid om eer te betoon aan ’n uitsaaier wat oor baie jare heen ’n besonder hoë standaard gestel het.

“Magdaleen, namens RSG wil ek jou opreg bedank vir jou jarelange toewyding, jou professionaliteit en veral die passie waarmee jy Loof die Here aangebied het,” skryf Jooste.

“Jy het ’n uitstekende standaard gestel én dit konsekwent gelewer, met respek vir die musiek, die program en die luisteraars.

“Ons wens jou net die beste toe vir die volgende hoofstuk, met die wete dat jy reeds meer as jou deel tot Suid-Afrika, Afrikaans en die uitsaaibedryf gelewer het.

“Jou bydrae sal altyd deel van RSG se geskiedenis bly.”


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos