Duisende vroue het vandeesweek op sosiale media uitgevaar teen die feit dat vroue gedurig vermaan word om self te sorg dat hulle veilig is. “Wanneer word daar iets gedoen aan die mense wat ons veiligheid bedreig?” is ’n vraag wat wyd gevra word.
Aktiviste met wie Die Papier gepraat het, deel hierdie frustrasie. Maar, sê dis beslis beter om voorbereid te wees en voorkomend op te tree as om ’n slagoffer te word.
Lynette Oxley van Girls on Fire, ’n organisasie wat vroue bemagtig om veiliger te wees, sê daar is ’n paar dinge wat elke vrou behoort te doen.
“Bly waaksaam, meld enige verdagte gedrag of verdwynings so gou moontlik aan, en dring daarop aan dat dit ondersoek word.”
Oxley sê deur bewus te wees van wat om jou aangaan en voorbereid te wees, het vroue meer opsies om gevaar te vermy.
“Vermy dinge wat jou aandag kan aftrek, kyk op en let op na mense, hul gedrag en enige iets – soos ’n voertuig – wat lyk of dit nie daar hoort nie.”
Oxley sê dis belangrik om jou instinkte te vertrou. “Jy het nie bewyse nodig voordat jy ’n plek verlaat, afstand tussen jou en iemand anders skep of iemand toegang weier nie.”
Dis ook belangrik dat iemand altyd weet waar jy is of waarheen jy op pad is. “Deel ook jou verwagte aankomstyd, en skep ’n kodewoord wat jy en jou gesin of vriende kan gebruik om alarm te maak.”
Sy waarsku vroue ook om nooit op sosiale media te sê presies waar jy is of wat jy beplan nie. Ewe belangrik is om voorspelbare roetines – soos ’n daaglikse drafroete op ’n sekere tyd – sover moontlik te vermy.
Sy het ook wenke vir wanneer jy vermoed jy word agtervolg. “Moenie reguit huis toe ry nie. Gaan na ’n besige, goed beligte plek waar daar ander mense is, of na jou naaste polisiestasie. En ontbied dadelik hulp.”
Maak ook seker dat jy noodnommers byderhand hou én memoriseer, vir ingeval jou foon gesteel word en jy iemand moet bel.
Leer dié vaardighede
“Om gevaar te vermy en te probeer ontsnap moet altyd jou hooffokus wees, maar jy moet ook weet hoe om jou self te beskerm as dit nie slaag nie. Leer selfverdediging, noodhulp en noodreaksievaardighede vir ingeval iets gebeur.”
Oxley glo ook dat vroue moet weet hoe om ’n vuurwapen te hanteer. “Vroue word dikwels aangeval deur mans wat groter en sterker as hulle is, of deur meer as een aanvaller. ’n Wettige vuurwapen kan ’n kleiner vrou help om haarself effektief te verdedig.”
Sy benadruk egter dat vuurwapen-eienaarskap behoorlike opleiding, veilige berging en gereelde oefening verg. “Dis nie ’n magiese oplossing nie, maar net ’n deel van ’n groter persoonlike veiligheidsplan.”
Nog wenke:
- Deel altyd jou ligging op Whatsapp, en stel dit vir 8 ure, selfs al gaan jy nie langer as ’n halfuur weg wees nie. Op dié manier kan jou foon vir ’n paar uur nagespoor word.
- Kry ’n selfoon-app soos Life360 vir jou gesin of vriendekring. Op die manier kan almal op die groep sien waar jy is. Jy kan alarm maak as jy hulp benodig en ook waar jy was. Die gratis weergawe het heelwat funksies wat jou reeds veiliger maak.
- Die Namola-app, wat spesiaal vir Suid-Afrikaanse toestande ontwikkel is, bied ook gratis sowel as betaalde weergawes waarmee jy jouself en jou familie kan beveilig.
