Aggressie is ingebou in die sport: Jy moet aanvallers hard lak, verdedigers sterk afweer . . .
Maar skoolkinders en ouers wat appels swaai laat ’n besonderse suur smaak in die mond.
Die eindtelling tussen Hoërskool Menlopark en Hoërskool Dr. E.G. Jansen tydens ’n Virseker Noordvaal Cup-wedstryd was 36-5 in die Pretorianers se guns. Oftewel, die telling toe die wedstryd gestop moes word weens ’n grootskaalse geveg waar skoolkinders én ouers betrokke was.

“Kan eerlikwaar nie EG Jansen se optrede glo vandag by die 1ste span game nie. Ouers wat betrokke word en ’n skoolkind slaan,” laat een persoon op sosiale media hoor.
“Julle EG Jansens kan nie eers ’n game wen by Menlo nie, dan praat ons nie eers van die fight van ouers en hoërskoolkinders nie. Swak sleg sies,” skryf ’n ander.
Met 40 minute se speeltyd agter die rug kan ’n mens hoor hoe die kommentator, sanger en aanbieder Pieter Koen, verbaas sin probeer maak van die vreemde gebeure wat voor hom afspeel. “Aggenee, manne! Nou wat nou? Wat gaan nou hier aan?!” sê hy terwyl toeskouers van die paviljoene na die geveg toe hardloop aan die ander punt van die veld.
“Ons is ouers hier vir ’n rugbywedstryd, nie ’n boksgeveg nie.”
Video’s van dié “rugbywedstryd, nie ’n boksgeveg nie” het egter soos ’n veldbrand aanlyn versprei.
Thinus Diedericks, Noordvaal voorsitter van die Noordvaal Skolerugby-vereniging, het in ’n verklaring bevestig dat hulle “kennis van die insident” neem en dat hulle “enige sodanige gedrag” ten sterkste afkeur.
“Daar is reeds verslae aangevra van beide skole en die nodige ondersoek sal gedoen word. Daar sal dan dienooreenkomstig opgetree word,” skryf hy.
Elders aanlyn het hy gevra dat mense nie verder oor die voorval kommentaar lewer nie. Dit, nes ’n skoon rugbywedstryd, was nie vandag op die kaarte nie.
