Die Stormers het hul Curriebeker-veldtog weer op koers gekry met ’n bonuspuntsege van 36-28 oor die Sharks Saterdagmiddag in die Kaapstad-stadion.
Dit was ’n wedstryd waarin die momentum dikwels gewissel het, maar die Stormers het genoeg gedoen in die laaste 20 minute om die oorwinning te beklink.
Met die Sharks vroeg in beheer, het die besoekers reeds in die vierde minuut die voortou geneem toe Lyle Matthews ’n uitstekende hoek gehardloop het om ’n kort aangee te vang en skoon deur die Stormers-verdediging te breek om ’n verdoelde drie te gaan druk.
Die tuisspan het egter onmiddellik ná die afskop teruggeslaan, met uitstekende spel deur die jongelinge Markus Muller en Kyle Smith wat hulle op die voorvoet geplaas het.
Ná ’n strafskop het die Stormers van ’n lynstaan af die bal deur verskeie fases geneem, waarna Vernon Paulo oor die doellyn gebars het vir ’n verdoelde drie om die telling gelyk te maak op 7-7.
Die Stormers het in die 21ste minuut voordeel getrek toe Wandile Mlaba oor is vir ’n drie, aangesien die Sharks geen antwoord gehad het vir die kort aangee rondom die losgemaal nie.
Met Kyle Smith se doelskop het die Stormers vir die eerste keer die voortou geneem met 14-7.
Die Sharks het die telling in die 32ste minuut gelyk gemaak met ’n pragtige drie. Luan Giliomee het deur die Stormers se middelveld gesny voordat hy Ross Braude aan sy binnekant gevind het om die telling op 14-14 te bring.
Die Stormers het byna onmiddellik teruggeslaan, met die jong senterpaar van Boulle en Muller wat uitstekend saamgespan het.
Boulle, wat ’n amper deurgebreek het, het Muller aan die buitekant gevind, en die jong ster het sy spoed ingespan om die Sharks se verdediging te klop en die tuisspan met rustyd ’n voorsprong van 19-14 te gee.
Die Stormers was eerste op die telbord in die tweede helfte toe Kyle Smith hul voorsprong in die 43ste minuut met ’n strafdoel na 22-14 uitgebrei het.
Die wedstryd het ’n opwindende heen-en-weer-stryd gebly, maar die Sharks het hulself in die 54ste minuut weer terug in die wedstryd gespeel. Ná verskeie minute in die Stormers se kant van die veld het hulle uiteindelik hul beloning gekry toe Junior Bok, Rambo Kubheka, van naby oorgedruk het om die Stormers se voorsprong tot 22-21 te verminder.
Dit het die Stormers egter weer tot aksie aangespoor, en ná ’n lynstaan wat gevolg het op ’n oortreding deur die Sharks, het die tuisspan hul voorsprong in die 63ste minuut na 29-21 uitgebrei.
Die bonuspuntdrie het gekom deur Boulle nadat die Sharks daarin geslaag het om eers ’n Stormers-dryfmaal en daarna verskeie kort lopies naby die losgemaal te stuit.
Die Stormers het uiteindelik die bal wyd gespeel, en Boulle het goeie krag getoon om sy verdediger te klop en oor te gaan vir die drie.
Nog ’n drie het enkele minute later gevolg toe Xola Nyali van ’n aanvallende lynstaan af gaan druk het om die oorwinning vir die tuisspan te verseker.
Die Sharks het egter in die wedstryd gebly toe Liam van Wyk uit ’n dryfmaal druk vir die besoekers, wat die telling tot 36-28 verklein het met agt minute oor. Dit sou egter die eindtelling ook wees, aangesien die Sharks net nie weer ten volle momentum kon kry om nog punte aan te teken nie.
