Adré Smith, Evan Roos, Paul de Villiers, Ntuthuko Mchunu . . . Daar was ’n hele paar Stormers wat op verskeie oomblikke Die Papier se speler van die wedstryd kon wees.
Hoewel Leinster se Jamison Gibson-Park die amptelike speler van die wedstryd was, het ons op 28-jarige Wandisile Simelane besluit.
Simelane, wat eens vir die Lions gespeel het, het behoorlik wraak geneem vir sy voormalige spanmaats wat in die kwarteindstryd teen Leinster vasgeval het.
Teen die Lions het vleuel James Lowe, in sy 100ste wedstryd vir Leinster, twee keer onder sy opposisie se pale gaan kuier. Dié keer teen die Stormers kon hy geen punte aanteken nie.
Lowe se selfvertroue groei in klein oorwinnings. ’n 50/22-skop of ’n massiewe duikslag wat die momentum in sy span se guns swaai, sal altyd Lowe met meer selfvertroue laat speel.
Dus is Simelane se duikslag om hom te lak in die 30ste minuut, wat Lowe die bal laat aanslaan, pure genot vir Stormers-aanhangers.
As regtervleuel het hy gereeld sorgeloos sy posisie na die linkerkant van die veld verskuif om op die aanval en op verdediging te geld waar sy span hom die nodigste het.
Ja, Lowe het net voor halftyd vir Simelane met een hand afgestamp, maar hy het dit nie persoonlik gevat nie. Hy het minute later onder druk die bal ver by die kantlyn afgeskop om die Stormers eindelik uit hul eie helfte van die veld te kry.
Boonop het hy dit gereeld vir die opposisie moeilik gemaak om die bal suiwer uit die lug uit te vang.
Simelane speel nie gewoonlik vleuel nie, maar het die beseerde Seabelo Senatla se tokse behoorlik volgestaan en gevaarlik op aanval en verdediging gelyk.
