Augustus bring nóg nuwe kykgenot na VIA

Aneeka. Foto: Verskaf
Aneeka. Foto: Verskaf

  • Vyf nuwe seisoene – Gesels, Boerbokke, Ons gesels balans, Hier sit die manne en Maak my ’n miljoenêr – begin in Augustus op VIA.
  • Leandie du Randt keer terug met die negende seisoen van Gesels, waarin gaste soos Louise Volschenk en Lyntjie Jaars vars idees oor leefstyl, tegnologie en persoonlike groei deel.
  • Ons gesels balans, aangebied deur Sherlin Barends, gaan praktiese gesprekke oor gesondheid, velversorging en algemene welstand bied.
  • Boerdery, rugby, eerlike gesprekke en jong entrepreneurskap sorg vir ’n uiteenlopende maand van eg Suid-Afrikaanse kykgenot.

Van inspirerende gesprekke en leefstylwenke tot rugbyhelde, boerdery en jong entrepreneurskap – in Augustus bring VIA dié uiteenlopende wêrelde saam in vyf nuwe seisoene vol eg Suid-Afrikaanse stories.

Leandie du Randt keer terug met vars inspirasie in GeselsOns gesels balans plaas welstand onder die vergrootglas, en Boerbokke, Hier sit die manne en Maak my ’n miljoenêr sorg vir alles van plaaslewe en kameraadskap tot groot idees met nóg groter potensiaal.

‘Gesels’

Leandie du Randt. Foto: Verskaf
Leandie du Randt. Foto: Verskaf

Gesels keer terug vir ’n negende seisoen waarin motivering, vernuwing en persoonlike groei die botoon voer. Die aanbieder, Leandie du Randt, verwelkom onder andere vir Daniëlla van Heerden, Anrich Herbst, Amalia Uys, Rolene Strauss, Melanie du Bois en Nicole Holm vir openhartige gesprekke oor hul lewens, loopbane en persoonlike groei. Die seisoen verken ook velsorg, mode, tegnologie en plaaslike ervarings. 

Die kookboekskrywer Louise Volschenk bring vars onthaal-idees na die kombuis, terwyl Lyntjie Jaars in “Tech vir tannies” alledaagse tegnologie eenvoudig verduidelik.

  • Die reeks, met Lamelle as hoofborg, begin op 8 Augustus en word Saterdae om 18:00 uitgesaai. 

‘Boerbokke’

Hempies du Toit en Breyton Paulse. Foto: Verskaf
Hempies du Toit en Breyton Paulse. Foto: Verskaf

Voormalige Springbokke verruil die rugbyveld vir die plaas in die tweede seisoen van Boerbokke. Met Breyton Paulse as veld-en-ateljeeaanbieder word daar in elke episode by ’n oud-Bok ingeloer om oor sy rugbyloopbaan, boerdery en lewe ná professionele sport te gesels. Paulse ontleed ook die naweek se rugby, terwyl Hempies du Toit die eerste gas is. 

Die reeks val saam met die eerste Rugby’s Greatest Rivalry-toer, wat in Augustus 2026 in Suid-Afrika afskop. Dié vierjaarlikse toer word afwisselend deur Suid-Afrika en Nieu-Seeland aangebied en sluit vanjaar agt wedstryde in. 

  • Die reeks van ses episodes word deur Vleissentraal geborg. Boerbokke begin op 11 Augustus en word Dinsdae om 19:00 uitgesaai.

‘Ons gesels balans’

Oor vier episodes ondersoek die reeks se nuwe aanbieder, Sherlin Barends, wat dit werklik beteken om balans in ’n besige lewe te vind. 

Bekende persoonlikhede soos Lynelle Kenned, Ricky Schroeder, Marciel Hopkins-Lourens en Natasha van der Merwe praat openhartig oor uitbranding, moederskap, loopbaanveranderinge, trauma en selfsorg. Saam met kundiges verken hulle praktiese temas waaronder meditasie, velsorg, slaap, asemhaling en goeie postuur. 

  • Ons gesels balans word in samewerking met Vitaderm aangebied en begin op 13 Augustus. Dit word Donderdae om 18:00 uitgesaai.

‘Hier sit die manne’

Frank Rautenbach. Foto: Verskaf
Frank Rautenbach. Foto: Verskaf

Dit is ook tyd vir die 13de seisoen van Hier sit die manne met Frank Rautenbach wat weer die deur na sy gesellige man cave oopmaak. 

Die gastelys sluit die langafstandatleet Adriaan Wildschutt, Blitsbok Dewald Human, bergfietsryer en inhoudskepper Simon Stofberg, oud-Springbok Joe van Niekerk, sanger en akteur Loukmaan Adams, privaat ondersoeker Mike Bolhuis, voormalige Springbok-spanfisioterapeut René Naylor en ultramarathonlegende Bruce Fordyce in. 

Deur openhartige gesprekke verken die reeks onder meer sportprestasies, verlies, geestesgesondheid, herstel, kreatiwiteit en nuwe lewenshoofstukke. ’n Fietsry-insetsel, geborg deur Platō Coffee met Squirt as medeborg, bring die fietsrypaartjie Pieter en Danielle du Toitateljee toe om toerusting, tegniek en praktiese fietsrywenke met Frank te deel. 

  • Die reeks, met KIA as hoofborg, begin op 15 Augustus en word Saterdae om 17:00 uitgesaai.

‘Maak my ’n miljoenêr’

Albert van Wyk. Foto: Verskaf
Albert van Wyk. Foto: Verskaf

Maak my ’n miljoenêr keer terug vir ’n vierde seisoen waarin die selfgemaakte miljoenêr Albert van Wyk die volgende geslag entrepreneurs help ontwikkel. 

Van Wyk, wat arm grootgeword en op 22 sy eerste miljoen gemaak het, vervul die mentor-rol wat hy self nie op skool gehad het nie. Die reeks volg ondernemende hoërskoolleerders en bied praktiese mentorskap, ondersteuning en blootstelling terwyl hulle hul sake-idees ontwikkel. Die doel is om entrepreneurskap by skole te bevorder en jongmense te bemagtig om finansieel onafhanklik te word. 

  • Die reeks van 13 episodes word word vanaf 24 Augustus op Maandae om 19:00 uitgesaai.

Nog soveel meer om na uit te sien op VIA 

VIA is ook by uitstek ’n tuiste vir die huiskok, met ’n verskeidenheid kookprogramme.

Herman Lensing. Foto: Verskaf
Herman Lensing. Foto: Verskaf

Herman se halfuur met Herman Lensing word reeds sedert Julie drie keer per week, van Dinsdae tot Donderdae, uitgesaai en word deur Food Lover’s Market moontlik gemaak.

In Augustus gaan Herman voort om toeganklike resepte, bekende geure en praktiese kombuiswenke te deel wat kykers tuis kan toepas.

Ander kookprogramme soos Tietie en Nanna kook en Aneeka se kombuis sorg vir nóg inspirasie vir elke dag se spyskaart.

'Moeder' word deur Rian van Heerden aangebied.
‘Moeder’ word deur Rian van Heerden aangebied.

Kykers kan ook steeds inskakel vir ander gewilde reekse wat onlangs begin het, waaronder Moeder met Rian van Heerden as die aanbieder en Die Wynmeester met onafhanklike wynmakers wat die fassinerende wêreld van wyn en wat daarmee gepaard gaan, aan die kykers bekendstel. 

Dan is daar natuurlik ander bekende gunstelinge soos Huisgenoot: Ware Lewensdramas, Hart op soek, Ons gesels troeteldiere en Klein sake, groot drome

Immergewilde reekse soos Kom ons braai en Kom ons braai: familie en vriende bly staatmakers vir kykers wat lus is vir lekker kuiertelevisie, terwyl Goeiemôre, good morning kykers deur die week met gesprekke, vermaak en nuttige leefstylinhoud geselskap hou.

Al die programme is op VIA, DStv-kanaal 147, te sien, met heruitsendings deur die week. Besoek www.viatv.co.za vir die volledige uitsaaiskedule en meer inligting.

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie