Jayden Adams (25) was onlangs deel van die Bafana Bafana-span wat geskiedenis gemaak het deur die uitklopfase van die FIFA-Wêreldbeker te bereik. Adams het onlangs na Suid-Afrika teruggekeer na afloop van die toernooi.
Dit was juis terwyl hy aan die toernooi deelgeneem het dat hy die ontstellende nuus oor sy ouma, Marianna Adams (72) se afsterwe gehoor het, kort voor hy op die veld sou draf teen Tsjeggië.
Later sou hy sê dat sy bene wel op die veld gespeel het, maar dat sy hart by sy ouma in die hemel was. Marianna was juis die een wat hom inspireer het tydens sy sokkerreis.
“Sy’s die rede hoekom ek hier is . . . om die Groen en Goud te dra het alles vir haar beteken.”
Die jong sportster se gebroke vriendin, Aqueelah Adendorf, het op Instagram geskryf dat sy nie woorde het vir die pyn wat sy ervaar nie.
“Rus in vrede, my lief. Dankie vir elke herinnering, elke lag, elke drukkie en elke beste oomblik wat ons gedeel het. Jy was nie net die liefde van my lewe nie, maar ook my grootste ondersteuner en my beste vriend.”

Intussen stroom ondersteuning in van so ver as Mexiko en uit van die kommentaar gelewer op haar Instagram-profiel gelewer, blyk dit dat hulle mekaar die dag voor sy dood gesien het.
Die twee was reeds vir ’n geruime tyd in ’n verhouding en het ’n vyfjarige dogtertjie.
Adams het voorheen vir Stellenbosch FC gespeel voordat hy die groot skuif na Mamelodi Sundowns in Januarie 2025 gemaak het. Hy het hierdie besluit om te skuif eers geneem nadat hy met Adendorf daaroor beraadslaag het.
Mamelodi Sundowns het gister gesê die klub is verpletter deur Adams se tragiese dood.
“Die voorsitter en die Motsepe-familie, die direksie, tegniese span, spelers, bestuur, personeel, ondersteuners van Mamelodi Sundowns FC en die hele Geel Nasie betuig hul innige meegevoel aan Jayden se familie en vriende terwyl ons sy heengaan betreur,” het die klub in ’n verklaring gesê.
“Ons bid dat die Almagtige God die Adams-familie, sy vriende en almal wat hom geken het, sal vertroos en versterk. Sundowns versoek met respek dat die familie se privaatheid eerbiedig word terwyl hulle hierdie groot verlies verwerk.”
Die middelveldspeler het die afgelope seisoen ’n onmisbare deel van die Mamelodi Sundowns-span geword toe die klub in Mei sy tweede CAF Champions League-titel gewen het.
Hy het sy wennersmedalje opgedra aan Oshwin Andries, ’n voormalige spanmaat by Stellenbosch FC wat in 2023 ná ’n mesaanval oorlede is.
Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur, het ook hulde aan Adams gebring.
“Dit is met diepe skok en ’n swaar gemoed dat ek verneem het van die afsterwe van Jayden Adams, middelveldspeler van Mamelodi Sundowns en Bafana Bafana, op die ouderdom van 25.
“Suid-Afrikaanse sokker het een van sy blinkste jong talente verloor, en die hele land treur saam met sy familie, spanmaats en die miljoene ondersteuners wat hom sien ontwikkel het van ’n belowende akademiespeler tot ’n volwaardige Bafana Bafana-internasionaal.
“Op die internasionale verhoog was Jayden deel van die Bafana Bafana-span wat in 2024 die bronsmedalje by die Afrikabeker-toernooi in Côte d’Ivoire gewen het.
Hy het ook sy plek in Hugo Broos se groep vir die 2026 FIFA-Wêreldbeker verdien en in al drie Suid-Afrika se groepwedstryde gespeel toe die span geskiedenis gemaak het deur vir die eerste keer die ronde van 32 te haal.
Die FIFA-president, Gianni Infantino, het sy meegevoel op Instagram uitgespreek en gesê sy “gedagtes en meegevoel, sowel as dié van almal by FIFA en die wêreldwye sokkergemeenskap, is met sy familie, vriende en spanmaats.”
‘n Oomblik van stilte ter nagedagtenis aan Adams is voor Saterdag se Wêreldbeker-kwarteindstryd tussen Noorweë en Engeland gehou.
Brendine Johnson, Adams se mentor, het namens die familie met die Soccer Laduma-span gepraat en ’n emosionele verklaring gelewer wat die diep hartseer van die jong “
“Op hierdie oomblik is alles nog baie vars. Die familie wil nie nou gekontak word nie en is nie in ’n posisie om met enigiemand te praat nie. Hierdie afsterwe het almal diep geruk. Hy het pas van die Wêreldbeker teruggekeer, en toe kry ons hierdie verskriklike nuus.
“Ek het Donderdag nog ’n goeie gesprek met hom gehad. Hy was baie positief daaroor om terug te keer en ná die Wêreldbeker weer aan te sluit. As CAF-kampioen het hy uitgesien na wat voorlê en hy was gereed daarvoor. Hy het ook elke geleentheid benut om tyd saam met sy familie deur te bring.
“Ek het in hierdie stadium nie eens die woorde om te beskryf hoe ons voel nie, maar ons vra dat die familie se privaatheid gerespekteer word. Ja, ek kan bevestig dat hy oorlede is. Niemand het dit verwag nie,” het Johnson gesê.
Doodsondersoek
Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen nadat sy liggaam by ’n perseel in Militaryweg, Schotsche Kloof, Kaapstad, ontdek is.
Polisiewoordvoerder kapt. FC van Wyk het bevestig dat beamptes Saterdagoggend omstreeks 11:00 na die toneel ontbied is.
“Die Kaapstad-Sentraal-polisiestasie het ’n geregtelike doodsondersoek geregistreer nadat die liggaam van ‘n 25-jarige man by ‘n perseel in Militaryweg, Schotsche Kloof, ontdek is,” het Van Wyk gesê.
“Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.”
Nog huldeblyke
Bronne: TimesLIVE, IOL, ESPN, Soccer Laduma, India Blooms
