Bewaringsgroepe spoeg vuur oor die Kaapstadse metroraad, CapeNature en SANParke se omstrede plan om 58 Chacma-bobbejane in die Kaapse Skiereiland te vang. Dis om dié bobbejane dan in twee reusehokke (“semi-wilde gebiede”) agter ’n geëlektrifiseerde heining “gevange te hou” om toe te sien dat hulle uit inwoners se tuine en Simonstad se sakekern wegbly.
Die Kaapstadse metroraad, CapeNature en SANParke, wat die Cape Peninsula Baboon Management Joint Task Team (CPBMJTT) gevorm het, sê die owerhede het etlike dekades lank alles in hul vermoë gedoen om die konflik tussen inwoners en die bobbejane in die Skiereiland te besleg.
Die plan is nou om twee troppe bobbejane – die Seaforth-trop, wat uit 16 bobbejane bestaan, en die Waterfall-groep (42 diere) – voor einde September te vang en in dié “semi- wilde gebiede” by Scarborough los te laat.
Die Wildlife Animal Protection Forum Suid-Afrika (WAPFSA), wat uit 30 bewaringsorganisasies bestaan, skryf in ’n ope brief die CPBMJTT se plan is “onnodig en wreed”. Hulle meen dit spreek nie die kern van die voortdurende konflik tussen hierdie wilde bobbejane en die mense aan nie.
WAPFSA wys die vinger na inwoners, toeriste, sakelui en amptenare wat kos in oop dromme gooi en só die bobbejane na woonbuurte lok.
Benewens swak afvalbestuur is die Kaapstadse metroraad ook besig om stedelike ontwikkelings in die Kaapse Skiereiland aan te moedig. Dit het tot gevolg dat die bobbejane se habitat jaarliks krimp en hul natuurlike kos verminder.
Vloot in visier
Die Suid-Afrikaanse vloot by Simonstad is nou ook in die visier van ’n plaaslike koalisie van nieregeringsorganisasies (NRO’s). Hulle beskuldig dié regeringsliggaam daarvan dat sy “onverantwoordelike en wanbestuur van afval” verantwoordelik is vir die “onhoudbare situasie van voortdurende konflik” tussen “sommige” inwoners van die Kaapse Skiereiland en die twee bobbejaantroppe.
Die koalisie, wat bestaan uit Baboon Management Western Cape, Baboon Matters Trust, Beauty without Cruelty en Baboons of the South, dreig nou met regstappe teen die vloot weens beweerde ernstige oortredings van die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Nema). Die wet hou verband met afvalbestuur en die gepaardgaande skade wat menslike voedsel aan bobbejane se welstand aanrig
Ryno Engelbrecht, ’n verteenwoordiger van die koalisie, sê hulle beplan ook regstappe teen die departement van openbare werke en infrastruktuur. Dié departement het volgens hom nie die vervalle geboue by die vloot se terrein in stand gehou nie en dis hoekom die bobbejane nou hul intrek daar geneem het.
Baboon Management sê in ’n brief dit is die vloot se skuld dat die bobbejane mak geraak het, afvalkos van mense vreet, in die afgeleefde geboue op die terrein leef en soms in Simonstad se sakekern amok maak.
Volgens ’n verklaring deur die NRO’s skep die vloot “ongesonde omstandighede binne ’n kritieke ekologiese buffergebied, wat aan ’n Suid-Afrikaanse Nasionale Park in die Kaapse fynbosstreek grens”.
Nie die departement van verdediging (die vloot) of dié van openbare werke en infrastruktuur het teen druktyd Die Papier se navrae beantwoord nie.
