Die DA se federale kongres, wat die naweek plaasvind, is ’n “weerspieëling” van die party se groei en sy “institusionele volwassenheid”, sê Werner Horn, huisvoorsitter in die Nasionale Vergadering en voorsittende beampte van die kongres.
Meer as 2 000 afgevaardigdes sal die kongres, wat elke drie jaar plaasvind, Saterdag en Sondag in Midrand bywoon.
Die vergadering sal Sondag vir die nuwe federale leier stem, nadat die huidige leier, John Steenhuisen, vroeër bekendgemaak het dat hy homself nie herkiesbaar gaan stel nie.
Die Kaapstadse burgemeester Geordin Hill-Lewis en Sibusiso Dyonase, koukusleier in Sedibeng, sal mekaar die stryd aansê, maar Die Papier het voorheen berig Hill-Lewis word by verre as die gunsteling beskou.
Afgevaardigdes sal ook vir ’n nuwe federale voorsitter en drie federale adjunkvoorsitters stem.
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, en Solly Msimanga, DA-leier in Gauteng, ding mee om die federale voorsitterskap, wat Meyer tans beklee.
Voorheen is berig daar is gemengde gevoelens oor wie hier waarskynlik met die louere sal wegstap.
Sewe lede ding mee om drie federale adjunkvoorsittersposisies. Onder die kandidate dien Solly Malatsi (minister van kommunikasie en tegnologie) en Siviwe Gwarube (minister van basiese onderwys) reeds in die kabinet.
Daar is sterk verteenwoordiging in die noorde met kandidate soos Cilliers Brink, Tshwane-burgemeesterskandidaat, en Belinda Kayser-Echeozonjoku, DA-koukusleier in Johannesburg, maar Nomafrench Mbombo en Anroux Marais van die Wes-Kaap is ook kandidate om dop te hou.
Die DA sal ook Sondag die nuwe voorsitter en drie adjunkvoorsitters van die federale raad, asook die federale finansiële voorsitter aankondig, waaroor hulle reeds gestem het.
Horn, Neo Mokoena en Ashor Surapen (adjunkminister van finansies) het om die voorsitterskap, wat Helen Zille tans beklee, meegeding.
Mark Burke (LP), Erik Marais (LP) en Fanyana Nkosi (raadslid in Ekurhuleni) was in die stryd om die finansiële voorsittersrol, wat dr. Dion George beklee het voordat hy in Januarie uit die DA bedank het.
Daar sal ook drie adjunkvoorsitters van die federale raad aangekondig word. Die volgende persone was in die wedloop:
- Deonay Balie (voorsitter van die Namakwaland-kiesafdeling)
- Subisiso Dyonase (Sedibeng-koukusleier)
- Innocent Mabaso (opleidingsvoorsitter in die Noord-Gautense strukture),
- Ricardo Mackenzie (LUR vir kultuursake en sport in die Wes-Kaap)
- Nomafrench Mbombo (vorige LUR vir gesondheid in die Wes-Kaap)
- Carl Pophaim (burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings in die Stad Kaapstad)
- Sello Seitlholo (adjunkminister van water en sanitasie)
- JP Smith (burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsvelligheid in die Stad Kaapstad)
- John Makoela
- Lungile Phenyane
- Segope Gabriel Sathekge
Twee van die huidige adjunkvooorsitters, Thomas Walters (lid van die provinsiale wetgewer in die Wes-Kaap) en dr. Annelie Lotriet (adjunkspeaker in die Nasionale Vergadering), is ook onder die kandidate.
- Hou Die Papier se webwerf dop vir nuus vanaf die konferensie. Politieke redakteur, Jana Marx, doen verslaf.
