Digitale isiXhosa-wiskundeprogram gee hupstoot aan grondslagonderrig

’n Nuwe digitale wiskundeprogram is nou in isiXhosa beskikbaar.
’n Nuwe digitale wiskundeprogram is nou in isiXhosa beskikbaar. Foto: Verskaf.

’n Nuwe digitale wiskundeprogram in isiXhosa is in die Oos-Kaap begin as deel van ’n poging om Suid-Afrika se grondslagfase-onderrig te versterk. Dít, natuurlik te midde van groeiende geletterdheidsuitdagings. Die inisiatief is ’n vennootskap tussen Matific, die Oos-Kaapse departement van onderwys en Click Learning.

Die Oos-Kaapse departement van onderwys het die program se aktiwiteite in isiXhosa vertaal om dit plaaslik relevant en kurrikulumgepas te maak, terwyl Click Learning verantwoordelik is vir die projekstruktuur, tegnologiese infrastruktuur en evaluering. Matific verskaf die digitale onderrigplatform en ondersteun die uitbreiding na verdere tale.

Die bekendstelling volg op kommerwekkende syfers wat toon dat slegs drie uit elke tien jong leerders op hul ouderdomsvlak kan lees, ’n faktor wat direk bydra tot swak prestasie in vakke soos wiskunde. Deur leerinhoud in isiXhosa aan te bied, beoog die program om konsepbegrip te verbeter deur onderrig in ’n taal wat miljoene kinders tuis praat.

Die platform kombineer kurrikulumgepaste digitale inhoud met stemgeaktiveerde funksies en KI-ondersteuning om leer meer toeganklik en interaktief te maak. Die isiXhosa-inhoud is deur die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad goedgekeur om aan nasionale taalstandaarde te voldoen.

“Suid-Afrika se benadering tot meer inklusiewe onderrig in skole is ’n uitstekende geleentheid om wiskundige vaardighede vroeg, op grondfase, te bevorder,” sê Craig Shotland, uitvoerende hoof van Matific.

“Deur Matific in isiXhosa te bied en dit met die huidige kurrikulum in te skakel, kan ons meer leerders help om wiskundige konsepte in ’n taal wat hulle die beste begryp beter te verstaan. Terselfdertyd kan ons vir onderwysers met gestruktureerde, data-gedrewe en tegnologiese hulpmiddels ondersteun.”

“Wanneer dit by skoolkinders se leesvaardighede kom, is hierdie ’n belangrike stap vorentoe,” sê Dylan Harrison, bedryfshoof van Click Learning. “Alhoewel baie leerders reeds in hul moedertaal onderrig word, is daar steeds baie min hoëgehalte en kurrikulumgepaste wiskunde-hulpmiddels in tale soos isiXhosa beskikbaar.”

Die aanvanklike projek, wat in April in selektiewe skole begin het, sal gebruik word om die program se doeltreffendheid te toets voordat dit moontlik na meer skole en tale uitgebrei word. Rolspelers meen die inisiatief kan ’n belangrike rol speel in die bevordering van inklusiewe, meertalige onderwys en beter akademiese uitkomste.

Bronne: Matific, Oos-Kaapse Departement van Onderwys, Click Learning.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie