Waterkrisis: Te veel water gaan verlore, maan Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag ’n vergadering van die uitgebreide presidensiële koördinerende raad in Boksburg gelei. Foto: GCIS
Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag ’n vergadering van die uitgebreide presidensiële koördinerende raad in Boksburg gelei. Foto: GCIS

Groot hoeveelhede water gaan in Suid-Afrika verlore nog voordat dit by mense se krane uitkom, en volgens pres. Cyril Ramaphosa is dit een van die grootste drywers van die land se waterkrisis.

“Ons agt metropolitaanse munisipaliteite verloor gesamentlik gemiddeld 34% van alle water wat aangekoop word voordat dit gefaktureer kan word,” het Ramaphosa Donderdag by ’n vergadering van die uitgebreide presidensiële koördinerende raad in Boksburg gesê.

Hy het gewaarsku dat sommige metros selfs naby aan die helfte van hul water verloor, hoofsaaklik weens lekkasies, swak instandhouding en bestuursprobleme.

Die president het gesê hoewel Suid-Afrika oor die jare groot vordering gemaak het om toegang tot water uit te brei, lê die grootste uitdaging nou by die betroubaarheid van die stelsel.

“Daar is geen twyfel dat ons groot vordering gemaak het om toegang tot water uit te brei nie. Die persentasie huishoudings wat wateronderbrekings ervaar het egter toegeneem,” het Ramaphosa beklemtoon.

Hy het die krisis grootliks toegeskryf aan probleme binne munisipaliteite, insluitend verouderde infrastruktuur, swak instandhouding, onwettige aansluitings en institusionele onstabiliteit.

Hy dat sê die waterkrisis een van die mees dringende uitdagings in die land is en dat dit ’n gesamentlike reaksie van alle regeringsvlakke vereis.

“Soos ons gedoen het om beurtkrag te oorkom, sal die Waterkrisiskomitee toesig hou oor die implementering van ’n Nasionale Wateraksieplan.

Ramaphosa sê die land se agt metros verloor gesamentlik gemiddeld 34% van alle water wat aangekoop word voordat dit gefaktureer  kan word.
Ramaphosa sê die land se agt metros verloor gesamentlik gemiddeld 34% van alle water wat aangekoop word voordat dit gefaktureer kan word.

Hy het bygevoeg dat beter bestuur en finansiële volhoubaarheid noodsaaklik is om die situasie om te keer en om te verseker dat water nie net beskikbaar is nie, maar ook betroubaar by verbruikers uitkom.

Die president het gewaarsku dat indien infrastruktuur toegelaat word om te verval terwyl inkomste na ander funksies herlei word, die waterkrisis net sal verdiep.

“Tegniese en professionele kapasiteit moet versterk word. Munisipale water- en sanitasiesisteme vereis gekwalifiseerde ingenieurs, aanlegoperateurs, projekbestuurders, tegnici en finansiële kundiges.

“Sonder die regte mense in die regte poste sal selfs die beste planne onuitgevoer bly. Daar moet ook gevolgebestuur wees.”


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie