Vir 54 dae moes sowat 58 bejaardes en gestremde inwoners van die Kwaggaspoort Reddingsdaad-sentrum in Danville, Pretoria, sonder elektrisiteit leef nadat die Tshwane-metroraad die krag op 8 Junie afgesny het.
Agter die donker kamers, koue storte en klere wat met die hand gewas moet word, het ’n jarelange dispuut oor munisipale rekeninge, miljoene rande se beweerde agterstallige skuld en die verantwoordelikheid vir die krisis gelê.
“Ons ou mense kry nou swaar, hoor. Regtig, ons kry nou swaar,” sê ’n 76-jarige inwoner van dié sentrum, wat anoniem wil bly.
“Hier is mense met ’n gebrek. Hier is mense wat ’n beroerte gehad het.”
Volgens haar is inwoners afhanklik van gas vir kosmaak en ’n warmwaterdonkie. Wasmasjiene kan nie gebruik word nie en badkamers is te donker.
“Die badkamers is so donker jy moet ’n lig saamvat as jy wil gaan stort.”


Die sentrum se nuwe direksie sê hulle het ’n probleem geërf wat al meer as ’n dekade sloer.
Ann-Sue Mostert, direkteur van Mostert Raubenheimer Ing. in Pretoria, en regsverteenwoordiger van die sentrum, sê die kern van die dispuut lê by ’n jare lange geskil met die metroraad oor elektrisiteitsrekeninge.
“Daar is al ’n hele paar jaar navrae gedoen by die Stad Tshwane,” sê sy.
Volgens Mostert het ’n vorige direkteur van die sentrum reeds in September 2022 opdrag gegee dat geen betalings aan Tshwane gemaak moet word totdat die dispuut opgelos is nie “omdat die Stad Tshwane net eenvoudig nie gedoen het wat hy moes nie.”
“Maar nou sit ons ongelukkig met die penarie dat daar nou nie gelde betaal is nie,” voeg Mostert by.
Sy sê kragmeters is in Maart weer geprogrammeer en toe kon hulle die oorspronklike dispuut aanpak, maar intussen het die agterstallige rekening tot sowat R2,4 miljoen gegroei.
Mostert sê nadat die sentrum se krag afgesny is, kon sy R440 000 insamel om aan Tshwane te betaal.
Sy wou onderhandel om die res van die rekening af te betaal, maar die stad was “eenvoudig nie gewillig nie”.
Volgens haar het Tshwane twee voorstelle gemaak: die sentrum moes óf R400 000 betaal en daarna maandelikse paaiemente van R63 533, met bewys van finansiële vermoë, óf R1,6 miljoen onmiddellik betaal nadat R1 miljoen afgeskryf sou word.
“Reddingsdaad het nie daardie soort finansies nie. Dis ’n nie-winsgewende organisasie (NWO). ’n NWO sit nie met twee en ’n half miljoen rand wat net rondlê nie.”
Mostert sê die nuwe direksie probeer intussen met die hulp van die gemeenskap oorleef. Daar is Dinsdag, 21 Julie, begin om sonkragpanele te installeer om noodverligting te bied terwyl onderhandelings voortduur.

Vir die inwoners bring dit egter min onmiddellike troos. “Ek self is 76,” sê die inwoner.
“Nou moet ek met my hand was, want ons kan nie wasmasjiene gebruik nie.”
Die Tshwane-metro het ná meer as ’n week steeds nie op navrae gereageer nie.
Terwyl die inwoners steeds sonder krag moes klaarkom, het Die Papier na die saak begin kyk nadat een van die inwoners haar moedeloosheid oor die situasie uitgespreek het.
Die Papier het daarna uitgereik na Cilliers Brink, voorsitter van die DA-koukus in Tshwane. Brink het die navraag na Jacqui Uys, die DA se woordvoerder oor finansies in Tshwane, verwys.
Uys het vervolgens navraag oor die situasie gedoen, waarna die oord se krag op 31 Julie weer aangeskakel is.
Tydlyn van die dispuut
- 2015: Dispuut ontstaan oor Tshwane se elektrisiteitsrekening en meterlesings.
- September 2022: Vorige direkteur gee opdrag dat geen elektrisiteitsbetalings aan Tshwane gemaak word totdat die dispuut opgelos is nie.
- Maart 2026: Stad Tshwane herprogrammeer die elektrisiteitsmeters.
- 8 Junie 2026: Kragtoevoer word afgesny. Water is volgens die sentrum steeds maandeliks betaal.
- 9 Junie: Vergadering met Tshwane-metroraad. Die metro eis R480 000 om die krag weer aan te skakel.
- Middel van Junie: Die sentrum samel ongeveer R400 000 in.
- 26 Junie: Tshwane bied twee betalingsopsies aan, maar die sentrum kan nie aan een voldoen nie.
- 21 Julie: Enkele sonkraginstallasies word gedoen as noodmaatreël terwyl die dispuut voortduur.
- 31 Julie: Ná navrae deur Die Papier en verdere inmenging word die oord se krag weer aangeskakel.
