Australië gaan die maksimum geldboete vir sosialemediaplatforms wat nie aan sy wêreldleidende verbod op gebruikers jonger as 16 jaar voldoen nie, verdubbel. Dié verbod het amptelik op 10 Desember 2025 in werking getree en Instagram, TikTok, Snapchat, Facebook, X, en YouTube het hieronder getel. Dit was die eerste keer dat so ‘n verbod deur enige land ter wêreld ingestel is.
Die Verenigde Koninkryk het nou ook dieselfde roete gevolg met ‘n verbod wat buiten die bogenoemde platforms, ook regstreekse stroming of die kommunikasie met vreemdelinge op speletjieswebtuistes (waaronder Roblox) verbied. Dit sal in 2027 in werking tree.
Maar volgens statistiek is daar gemiddeld vier uit elke vyf gebruiker jonger as 16 wat die Australiese verbod heeltemal ignoreer.
Strenger wetgewing op pad
Die regering sê die stap is nodig om wydverspreide omseiling van die reëls hok te slaan. En slaan gaan daar geslaan word!
Nuwe wetgewing sal die maksimum boete vir stelselmatige oortredings verhoog tot A$99 miljoen (ongeveer US$68 miljoen) en die eSafety-kommissaris groter bevoegdhede gee om platforms tot verantwoording te roep.
Volgens die regering ondersoek die onafhanklike aanlynreguleerder moontlike nie-nakoming deur Meta Platforms se Facebook en Instagram, asook Snap Inc. se Snapchat, TikTok en Google se YouTube.
Eerste minister Anthony Albanese het gesê dit is duidelik dat groot tegnologiemaatskappye nie genoeg doen om aan die wet te voldoen nie.
“Daar is steeds te veel kinders op sosiale media. Hierdie wysigings weerspieël hoe ernstig ons enige versuim deur sosialemediamaatskappye opneem om aan die wet te voldoen,” het Albanese gesê.
Minderjarige gebruikers het die verbod omseil deur rekeninge van ouer persone te gebruik, vals profiele te skep of via private blaaiers aan te meld.
Australië se verbod word wêreldwyd fyn dopgehou deur lande soos in die Verenigde Koninkryk, Indonesië, die VAE en Nieu-Seeland, wat soortgelyke maatreëls oorweeg of reeds ingestel het.
Een van die eerste eweknie-geëvalueerde studies oor die verbod, wat vandeesmaand in die British Medical Journal gepubliseer is, het bevind daar is onvoldoende bewyse dat die maatreël ’n beduidende invloed op jongmense se gebruik van sosiale media gehad het.
Die navorsers het meer as 400 jongmense voor en drie maande ná die verbod ondervra en bevind dat die reëls op groot skaal omseil is.
Daar was min verandering onder gebruikers van 12 tot 13 jaar, ’n geringe afname onder 14- en 15-jariges, en ’n toename in gebruik onder 16-jariges en ouer.
Groter bevoegdhede vir die reguleerder
Die regering sê die eSafety-kommissaris benodig groter bevoegdhede, ondanks die feit dat meer as vyf miljoen rekeninge van gebruikers jonger as 16 sedert die verbod op 10 Desember geblokkeer is.
Kragtens die nuwe wet sal die kommissaris sosialemediamaatskappye kan verplig om bewyse te lewer van die stappe wat hulle gedoen het om te voorkom dat kinders jonger as 16 rekeninge open.
Die reguleerder sal ook inligting en dokumente van die platforms én derde partye, soos ouderdomsverifikasieverskaffers en toepassingswinkels, kan eis om die platforms se bewerings te toets.
Ou truuks trek ‘n nuwe baadjie aan
Kommunikasieminister Anika Wells het gesê sy is nie tevrede met die platforms se optrede nie.
“Uit die gereelde verslae wat ek van die eSafety-kommissaris ontvang, is dit duidelik dat sosialemediaplatforms ou truuks uit die groottegnologie-handboek gebruik en die minimum doen om aan die wet te voldoen,” het Wells gesê.
Sy het bygevoeg dat die nuwe strawwe en bevoegdhede wys dat die regering nie sal terugstaan nie en vasbeslote is om groot tegnologiemaatskappye aanspreeklik te hou.
Hoe voel die ouers?
’n Groeiende hoeveelheid navorsing dui daarop dat oormatige tyd aanlyn ’n negatiewe uitwerking op tieners se welstand het, en baie ouers verwelkom Australië se verbod.
Hoewel sosialemediamaatskappye onderneem het om die wet na te kom, waarsku hulle dat die maatreëls tieners eerder na onbeheerde en ongereguleerde dele van die internet kan dryf.
Die platforms dra die volle verantwoordelikheid om te verseker dat gebruikers gebaseer in Australië 16 jaar of ouer is en moet kan bewys dat hulle redelike stappe gedoen het om jonger gebruikers uit te sluit.
Sommige platforms gebruik kunsmatige intelligensie (KI) om ouderdom op grond van foto’s te skat, terwyl gebruikers ook hul ouderdom kan bewys deur ’n amptelike identiteitsdokument op te laai.
