’n Hofstryd tussen ampsdraers van twee opposisiepartye, die PA en die DA, is begin nadat Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur en PA-leier, Dinsdag ’n hofaansoek teen die Wes-Kaapse DA-LUR Anton Bredell vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning ingedien het.
Die saak, wat in die Kaapse hooggeregshof ingedien is, spruit uit McKenzie se dae as burgemeester van die Sentrale Karoo Distriksmunisipaliteit met Beaufort-Wes as hoofsentrum in 2022. McKenzie het toe ’n omstrede geldinsameling van meer as R1 mil. gehou om dienslewering in die Karoo-dorp te finansier. In die aansoek vra McKenzie dat die hof ’n voortslepende ondersoek, wat Bredell na aspekte van die projek laat doen het, skrap.
In die hofaansoek, wat nie dringend is nie, voer McKenzie aan dat Bredell en ander DA-ampsdraers die geldinsameling hanteer het asof dit in korrupsie gehul is. Hy wys daarop dat die geld wat ingesamel is, by ’n spoggerige funksie in ’n Sandtonse hotel, gebruik is vir die vervanging van puttoilette, die herstel van ’n munisipale swembad en ander herstelwerk aan infrastruktuur. Hy wys ook daarop dat die werk nie in dispuut is in Bredell se ondersoek nie, maar dat die ondersoek gaan oor by watter bankrekening die geld inbetaal is.

Luidens die hofstukke is die ondersoek ingevolge artikel 106 van die Stelselswet laat doen. Dit gee ’n provinsiale LUR die mag om beweerde wanpratyke by ’n munisipaliteit te ondersoek en dan die verslag binne 90 dae aan die nasionale Raad van Provinsies, die minster van finanansies en die nasionale minister van plaaslike regering te lewer.
McKenzie voer aan dat die 90 dae reeds jare gelede reeds verstryk het, dat die forensiese ondersoekers wat Bredell aangestel het hul voete gesleep het en dat die hof die ondersoek daarom moet skrap. Hy voer ook aan dat Bredell kwessies laat ondersoek het wat buite die raamwerk van die wet val. Pleks van munisipale sake is die ondersoek gelas na of die geld by die regte rekening inbetaal is van die maatskappy wat die fondse vir McKenzie bestuur het.



In die hofstukke word ook aangevoer dat daar in die eerste twee maande van die 90 dae-tydperk min gedoen is. Maar met die naderende 2024 nasionale verkiesing is daar skielik politiek daarvan gemaak uit DA-geledere.
Die Sentrale karoo Distriksmunisipaliteit word as tweede respondent saam met Bredell geheg, asook die twee forensiese ondersoekers wat die ondersoek moet hanteer. Bredell en/of die DA se kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.
Wouter Kriel, woordvoerder van Bredell, het in ’n reaksie gesê die saak is “nie so eenvoudig nie”. Volgens Kriel is daar ’n lang geskiedenis van regstappe en appèlle deur McKenzie wat reeds voorheen deur die howe afgekeur is.
Die departement se regspan is tans besig om die nodige dokumente te bestudeer om ’n volledige antwoord te formuleer, en ’n omvattende verklaring sal mettertyd uitgereik word.
Op die vraag oor die plaaslike regering, ontwikkelingsbeplanning en omgewingsake se gevoel oor die hofaansoek, was Kriel se antwoord eenvoudig. “Die gevoelens maak nie regtig saak nie.”
Volgens Tertuis Simmers, Wes-Kaapse LUR vir infrastruktuur verwerp die DA in die Wes-Kaap die bewering dat hierdie saak oor partypolitiek gaan. “Dit is nie die DA wat die feite geskep het nie, dit is ’n regsproses wat handel oor aanspreeklikheid en deursigtigheid rondom geld wat tydens ’n fondsinsameling vir die Beaufort-Wes-munisipaliteit ingesamel is.”
“LUR Anton Bredell het deurgaans die regspad gevolg om duidelikheid te verkry. Verskeie howe het reeds oor die aangeleentheid beslis. Dit wys dat die saak op sy meriete beoordeel word en nie op politieke retoriek nie.
“Indien mnr. McKenzie van mening is hy het aan al sy verpligtinge voldoen, behoort hy die geleentheid te verwelkom om volledige rekenskap te gee. Openbare vertroue word nie deur politieke slagspreuke gebou nie, maar deur deursigtigheid en aanspreeklikheid.
“Die DA sal die regsproses respekteer en nie kommentaar lewer op die meriete van enige verdere hofverrigtinge nie.”
