Kongresgees het hoog geloop Saterdag, die eerste dag van die DA se federale kongres in Midrand, Gauteng.
Meer as 2 000 afgevaardigdes het uit al nege provinsies gereis om die driejaarlikse geleentheid by te woon.
Wanneer daar nie na toesprake geluister is of oor DA-grondwetwysigings of -beleid gestem is nie, het die see van blou saam met die sanger Karen Zoid en ander gaskunstenaars gesing en gedans.
Dean Macpherson, minister van openbare werke en ’n bondgenoot van John Steenhuisen, het ’n roerende huldeblyk aan Steenhuisen gelewer. Steenhuisen het homself nie vir ’n derde termyn as DA-leier verkiesbaar gestel nie.
Macpherson het Steenhuisen en sy gesin na die verhoog geroep en partylede het met ’n staande applous van hom afskeid geneem.
“Hierdie kry jy nie by ander partye nie,” het twee politieke ontleders aan Die Papier gesê, en verwys na die toekenningsgeleentheid waar gewone lede vir hul werk en toewyding aan die party, voor almal, beloon is.
“Hier is ’n stuk medemenslikheid en empatie vir mense wat ek nog nie elders gesien het nie,” het Roland Henwood, ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria, gesê.
Een van die hoogtepunte van die dag was die toesprake deur die federale leierskandidate, Sibusiso Dyonase, koukusleier in die Sedibeng-munisipaliteit, en Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad.
Dyonase, ’n voormalige Mnr. Suid-Afrika-finalis, was in tradisionele drag geklee.
Hill-Lewis het die gehoor op hul voete gehad. Hy is die gunsteling om vandag met die leierskapstitel weg te stap.
LEES | DA-leierskandidate Geordin Hill-Lewis en Sibusiso Dyonase sê Suid-Afrika kán werk met die DA
Afgevaardigdes stem al van vroegdag af vir die nuwe federale leier, federale voorsitter en drie federale adjunkvoorsitters. Uitslae word na verwagting tussen 13:00 en 14:00 bekendgemaak.
Die nuwe voorsitter en drie adjunkvoorsitters van die federale raad, asook die federale finansiële voorsitter, waaroor daar in die week reeds gestem is, sal ook vandag aangekondig word.
