Groot skolerugby dié naweek met drama wat op die veld móét bly

Hoërskool Garsfontein se Keagan Knighton probeer verby die Hoërskool Rustenburg se losskakel, Ricardo Enos, glip.
Hoërskool Garsfontein se Keagan Knighton probeer verby die Hoërskool Rustenburg se losskakel, Ricardo Enos, glip. Foto: Joubert de Wet.

Paarl Gimnasium is nie net die beste skolerugbyspan van 2026 in Suid-Afrika nie, maar dalk nog belangriker dié beste skolerugbyspan in die Paarl vanjaar.

Die Gimmies het die bordjies teen Boishaai met 25-11 verhang in die jaarlikse interskole tussen die twee spanne.

Die wenspan se buitesenter, Derik Cloete, het twee keer agter die doellyn in die King Price Derby Series-kragmeting gaan kuier. Hy is ook welverdiend as speler van die wedstryd aangewys.

Die Gimmies het hiermee die seisoen as Suid-Afrika se voorste span afgesluit nadat hulle in hul eerste wedstryde met 19-20 teen Stellenberg die knie gebuig het. Die Gimmies het daarna onder leiding van hul kaptein en binnesenter, Ethan Barker, asook afrigter Pieter Rossouw hul volgende 14 wedstryde gewen.

Stellenberg het op sy tuisveld, Jade-park, vir Hoërskool Durbanville tydens hul 40ste verjaarsdag met 42-12 die loef afgesteek. Die Jade Brigade het vanjaar net teen Garsfontein (20-21) en die Hoër Jongenskool Paarl (7-29) die knie gebuig.

In nog ’n wedstryd in die King Price Derby Series het Jeppe vir King Edward VII met 46-31 kaf gedraf.

Hierdie Saterdag kan die Afrikaanse Hoër Seunskool vir hul hoofafrigter, Ruan Jacobs, met ’n klinkende sege teen Pretoria Boys’ High op gepaste wyse groet. Die jaarlikse interskole tussen Oakdale Landbou en Boland Landbou vind ook Saterdag in die Agter-Paarl plaas.

In Upington is dit ook tyd vir die jaarlikse Groot Interjol tussen Hoërskool Upington en Duineveld.

Die Virseker Noordvaal Cup het verlede week die nuus oor verkeerde redes gehaal en die organiseerders sal hoop dat slegs die rugby wat opgedis word hierdie Saterdag die besprekingspunt is.

Dit is na verlede week se kragmeting tussen die Hoërskool Menlopark en Dr. E. G. Jansen vroeg gestop is weens ’n geveg wat tussen oud-leerlinge en spelers van die Jansies uitgebreek het.

Die Parkies het die kragmeting met 36-5 gewen. Die span van Pretoria sal die naweek na Rustenburg reis om sy laaste kragmeting van die liga teen Hoërskool Rustenburg te speel.

Die Jansies moet weer na die Jakarandastad reis waar hy sonder heelwat van sy spelers die onoorwonne verdedigende kampioen, Hoërskool Garsfontein, die stryd moet aansê.

Monument sal op sy tuisveld vir Waterkloof inwag. Die Klofies sal sonder sy hoofafrigter, Cobus van Dyk, moet klaarkom. Van Dyk is betrokke as afrigter by die Suid-Afrikaanse o.18-span wat regmaak vir ’n internasionale reeks met Ierland, Georgië, Engeland en Frankryk.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos