Inkvlieg: Afrikaners raak keelvol vir links, regs se geskel

Inkvlieg.

Soms stuur die besige redaksie vir Inkvlieg per abuis die verkeerde bladsy om op te skryf, maar dit bring insae oor wat kom. Elders in Dink breek Andries Cornelissen grond vir Afrikaners wat nie “ons-en-hulle-mense” is nie. Iemand moes begin praat oor die beledigende smoelgeveg tussen die linkses en regse op veral sosiale media.

Die tendens strek wyer as Afrikaners.

Inkvlieg stem saam, die meeste mense is van die twee skellende kampe op mekaar uitgesluit. Die middelgroep, waarvan die stem nie daar gehoor word nie, gaan egter moet vorentoe tree met ’n erkenbare standpunt.

Die “argument vir gematigdheid” (vanuit die Latynse “argumentiam ad temperantiam”) word deur sommige ontleders beskryf as ’n “grys dwaling”. Dus “die illusie van die middelgrond en die vals kompromis”. Of “die waan dat die waarheid altyd in die middel van twee opponerende standpunte is”.

Realiste kort ’n nuwe, doelgerigte raamwerk, want wie wil “Cyril-innie-middel” genoem word?

Mense van die week

Slimkop

Adv. Sesi Baloyi, vlymskerp lid van van die Madlanga-kommissie. Suid-Afrikaners wat die kommissie se sepie – “Die lief en leed van die kamerade en hul sindikate” – volg, is mateloos beïndruk met haar. Nie net skil sy laag vir laag deur die liegstories wat boewe daar gaan opdis nie. Mense met prysenswaardige reputasies het ook hul moses voor haar teëgekom. Vat hulle, adv. Sesi, vat hulle!

Sot

Een reputasie wat so voor Baloyi en kie gevou het, is dié van advokaat Andrea Johnson. Hoog aangeskrewe deur bepaalde suksesse wat sy reeds teen die boewerati, met kontakte op die dikmatte, behaal het. Maar hoe meer Baloyi en haar mede-kommissarisse indringende vrae gevra het, het te veel 1 + 1-somme, wat nie 2 maak nie, uitgedop.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie