Die Stormers-span wat in die eerste wedstryd van die Greatest Rivalry-reeks teen Nieu-Seeland te staan kom, is pas aangekondig.
Buitesenter Ruhan Nel sal die span aanvoer wat die besoekers in die eerste wedstryd van hul toer by die DHL-stadion pak, met afskoptyd wat om 19:00 Vrydagaand is.
Nel word in die middelveld deur Jonathan Roche bygestaan, terwyl die 20-jarige losskakel Yaqeen Ahmed saam met die skrumskakel Imad Khan sal kombineer om die span se skakelpaar te vorm.
Die heelagter Warrick Gelant sal met vleuels Seabelo Senatla en Leolin Zas langs hom speel, terwyl die ervare Dewaldt Duvenage en veelsydige Wandisile Simelane van die plaasvervangersbank af impak in die agterlyn sal bied.

Voor sal haker André-Hugo Venter tussen die stutte Vernon Matongo en Neethling Fouché uitdraf, met JJ Kotzé, Ntuthuko Mchunu en Sazi Sandi wat onder die plaasvervangers ingesluit is.
Adré Smith en Connor Evans vorm die slotkombinasie, terwyl Ruan Ackermann in die tweede helfte ingespan sal word.
Die losvoorspelers Evan Roos, Hacjivah Dayimani en Deon Fourie is dieselfde kombinasie wat die VRK-eindstryd in 2022 begin het, toe die Stormers die eerste titel in die kompetisie se geskiedenis by die DHL-stadion verower het. Keke Morabe en Wandile Mlaba is vir hul indrukwekkende vorm in die Curriebeker met plekke op die bank beloon.
Stormers-breier, John Dobson, sê sy span sien uit na die besondere geleentheid by die DHL-stadion.
“Hier word geskiedenis gemaak wanneer die Stormers vir die eerste keer teen Nieu-Seeland speel, en ons span is vasbeslote om dit vir ons ondersteuners ’n wedstryd te maak wat hulle lank sal onthou.
“Vir ’n klubspan om teen ’n internasionale span wat tweede op die wêreldranglys is te speel, is ’n geweldige geleentheid, en iets waarna elke speler en lid van die bestuurspan uitsien,” het hy gesê.
