Koue en sneeu op pad

Weer.
Koue en sneeu is op pad. Foto: Gallo Images / Netwerk24 / Jaco Marais.

Weerkenners is dit eens dat ons nog nie ons winterklere kan wegpak nie, maar moenie te opgewonde raak oor sneeu-voorspellings vir Gauteng en ander gebiede waar dit nie gewoonlik sneeu nie.

Volgens Annette Botha, ’n meteoroloog van Vox Weather, toon voorspellingsmodelle tans dat ’n sterk kouefront die land teen Sondag in ’n koue greep sal hê. “Dit kan wydverspreide reën, sterk wind en baie kouer toestande meebring, gevolg deur ’n moontlike afsnylaag.”

Botha sê egter hoewel sommige modelriglyne daarop dui dat vriesvlakke laag genoeg kan daal vir sneeu in dele van al nege provinsies, is dit nog geensins ’n bevestigde sneeuvoorspelling nie.

Sy verduidelik dat faktore soos die posisie en intensiteit van die kouefront, die moontlike ontwikkeling van ’n afsnylaag, die beskikbaarheid van vog en hoe laag die vriesvlak kan daal, alles in ag geneem word voordat sneeu voorspel kan word. “Winterstelsels, en veral afsnylae, is baie sensitief vir klein veranderings. As die stelsel net ’n paar dosyn kilometer verder noord of suid ontwikkel, of effens stadiger of vinniger beweeg, kan dit die verspreiding van reën en sneeu heeltemal verander,” sê Botha.

Tokelo Chiloane, ’n senior weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, stem saam dat baie tussen nou en Sondag kan verander. “Die intensiteit en posisie van ’n weerstelsel bepaal of verskynsels soos stormsterk wind, sneeu en swaar reën sal voorkom.”

Volgens Chiloane is sneeu gewoonlik beperk tot die hoogliggende gebiede en is dit dus dié gebiede waar sneeu verwag kan word. “Ons kyk na die gebied rondom die Drakensberge, die suidelike dele van Mpumalanga en KwaZulu-Natal, sowel as dele van Lesotho, die Oos-Kaap en berge in die Wes-Kaap. Sneeu kan moontlik ook in Calvinia en dele van die Noord-Kaap en Namakwaland voorkom.”

Dr. Hannes Rautenbach, ’n senior weerkundige, sê sneeu kan met “redelike sekerheid” reën vir die Wes-Kaap en vir groot dele van die land voorspel word. Volgens hom sal ’n kouefront die Wes-Kaap reeds teen Saterdagmiddag tref. Namate dit oor die land beweeg, kan sneeu in dele van die Karoo, van Sutherland tot Graaff-Reinet, asook oor dele van die Oos-Kaap tot by Lesotho verwag word. “Dit kan teen Maandag en Dinsdag na die Hoëveld van Mpumalanga uitbrei.”

Goeie reën met ’n moontlikheid van sneeu kan ook oor die suidelike dele van KwaZulu-Natal verwag word.

Droër Kaap nie El Niño se skuld

Chiloane sê dis nog te vroeg om te sê of Suid-Afrika ’n warmer winter gehad het. “Die winter is nog lank nie verby nie, en die groot koue kan nog kom. Volgens ons duur die meteorologiese winter van Junie tot einde Augustus. Ons sal daarna eers na die gemiddelde temperature kan kyk en werklik kan sê.”

Die droër Kaapse winter het volgens al drie kenners niks te doen met die droër El Niño-toestande wat vir die lente en somer voorspel word nie. “Hierdie winter het minder kouefronte die Wes-Kaap behoorlik bereik en dit het gelei tot warmer en droër toestande,” verduidelik Botha. El Niño se uitwerking word gewoonlik in die lente en somer van die somerreënval-gebiede gevoel.

Volgens Chiloane is daar tans tekens van ’n “swak El Niño-stelsel”, maar ’n volskaalse El Niño kan egter nie uitgesluit word nie. “Mense moet maar wel vir warmer dae, meer hittegolwe en minder somerreën voorberei.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos