Die polisie in Limpopo het bevestig dat die twee toeriste wat Vrydag in die Krugerwildtuin dood aangetref is, verskeie steekwonde aan die bolyf gehad het.
’n Grootskaalse soektog is van stapel gestuur na die onbekende verdagtes asook die toeriste se groen Ford Ranger.
Volgens brig. Hlulani Mashaba, ’n polisiewoordvoerder in Limpopo, het die 71-jarige man en ’n vrou, wie se identiteit nog bevestig moet word, verlede Sondag by een van die kampe in die Krugerwildtuin aangekom.
Die paartjie is Woensdagoggend by die Pafuri-piekniekplek laas gesien. ’n Soektog is toe geloods nadat hulle nie teruggekeer het nie.
Hul lyke is Vrydagmiddag by die Cross Corner, naby die samevloeiing van die Levubu- en Limpoporivier, deur ander toeriste aangetref. Lede van die polisie, nooddienste, Sanparke en die Grensbestuursowerheid het na die toneel gehaas.
LEES OOK | Toeriste se lyke naby rivier in Krugerwildtuin gevind
Mashaba het bevestig dat die twee met steekwonde aangetref is.
“Die omstandighede rondom die voorval is in hierdie stadium nog onduidelik, en die polisie ondersoek twee aanklagte van moord en kaping,” het Mashaba gesê.
Die groen Ford Ranger dubbelkajuit waarin hulle gereis het, word steeds gesoek. Volgens die polisie duur die ondersoek voort in samewerking met die bestuur van die Krugerwildtuin.
Niemand is nog in verband met die moorde aangekeer nie.
Willie Aucamp, die minister van bosbou, visserye en die omgewing, het die voorval as “ongekend” beskryf.
“Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die Kruger-wildtuin dat ’n voorval van hierdie aard aangemeld word.”
Sanparke sê die naasbestaandes is reeds in kennis gestel en ondersteuning word gebied.
“Die organisasie sal die familie bystaan met vervoer na Limpopo, asook verblyf en repatriasiekoste.”
