Twee toeriste wat sedert Donderdag vermis was, se lyke is naby ’n rivier in die Pafuri-afdeling van die Krugerwildtuin gevind.
Volgens Sanparke is ’n soektog Donderdag van stapel gestuur nadat die toeriste nie na hul kamp teruggekeer het nie.
“Die soektog het Vrydag gelei tot die grusame ontdekking van twee liggame naby ’n rivier deur ander toeriste.
“Veldwagters is onmiddellik ingeroep, en dit is toe bevestig dat die voertuig waarmee die toeriste gereis het, vanaf die toneel verdwyn het,” het Sanparke in ’n verklaring gesê.
Willie Aucamp, die minister van bosbou, visserye en die omgewing, sê sulke voorvalle is ongekend.
“Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die Kruger-wildtuin dat ’n voorval van hierdie aard aangemeld word.”
Sanparke sê die naasbestaandes is reeds in kennis gestel en ondersteuning word gebied.
“Die organisasie sal die familie bystaan met vervoer na Limpopo, asook verblyf en repatriasiekoste.”
Die bestuur het hul medelye uitgespreek.
“Die minister, die raad en bestuur van Sanparke betuig hul diepste medelye aan die betrokke familie en vriende. Die aangeleentheid is nou vir verdere ondersoek na die polisie verwys.”
