Langnaweek: Wees versigtig as jy reis

Padveiligheid.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Met nog ’n langnaweek wat voorlê, word motoriste gemaan om versigtig te wees. Dit volg nadat daar oor die Paasnaweek ’n kommerwekkende styging in arrestasies was vir dronkbestuur.

Makhosini Msibi, hoof van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC), sê arrestasies vir bestuur onder die invloed het met 39% gestyg, met 263 meer oortreders as in dié tydperk verlede jaar.

Barabara Creecy, minister van vervoer, het tydens die bekendstelling van die padveiligheidsveldtog op 20 Maart 2026 in Vosloorus gesê menslike gedrag, byvoorbeeld roekelose bestuur of bestuur onder die invloed van drank, bly die grootste oorsaak van ongelukke. “Meer as 80% van padongelukke is as gevolg van menslike optrede,” sê Creecy.

Creecy het egter ook ’n positiewe punt gelig. “Padsterftes het met 10% afgeneem in die eerste maande van 2026, terwyl botsings met 11% gedaal het in vergelyking met dieselfde tydperk in 2025.

Voetgangers bly ’n groot risikogroep, wat 43% van padsterftes uitmaak, sê Simon Zwane, RTMC-woordvoerder. Dié organisasie het tien hoërisiko-distrikte geïdentifiseer, insluitend Johannesburg, Ekurhuleni en Tshwane.

Padveiligheidsmaatreëls is die afgelope Vryheidsdaglangnaweek weer verskerp op hoofroetes soos die N1, N2 en N3, en sal volgehou word met die komende langnaweek. Spesiale fokus word geplaas op gebiede naby nedersettings en vermaaklikheidsplekke waar voetgangeraktiwiteit toeneem.

Dronkbestuur.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Verkeer op die N3

Die 415 km N3-tolroete tussen Gauteng en KwaZulu-Natal bly een van die land se besigste vervoerroetes, met vragmotors wat sowat 44% van verkeer uitmaak.

Anita Heyl, woordvoerder van die N3-tolkonsessie (N3TC), sê padblokkades en kontrolepunte word strategies geplaas. “Die N3-Tolpadroete stel tydens die langnaweke versterkte veiligheidsmaatreëls in, insluitend padblokkades en die ontplooiing van multidissiplinêre spanne,” sê sy

Volgens Heyl sluit dié maatreëls satellietstasies langs die roete in, asook bykomende patrollies om verkeer te monitor, voorvalle vinnig te hanteer en verkeersvloei te herstel.

Weer speel ook ’n rol

Nooddienste waarsku dat langnaweke, gekombineer met maandeinde verkeer en moontlike reënweer, ’n verhoogde risiko vir padongelukke inhou.

“Ons doen alles moontlik om reaksietye te verbeter, maar in lewensgevaarlike situasies tel elke sekonde. Motoriste moet asseblief noodvoertuie voorkeur van toegang gee en noodbane oop hou,” sê Shalen Ramduth, operasionele direkteur van Netcare 911.

Motoriste word aangeraai om vooraf te beplan, alternatiewe roetes te oorweeg en verantwoordelik te bestuur, wanneer hulle reis na ’n vakansiebestemming of, ten die einde van die komende langnaweek, huiswaarts keer.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie