Lentemaand, liefdemaand: September

Blomme.

Die negende maand van die jaar, September – die volmaakte maand. Die negende maand se naam is waarskynlik net verkeerd in die doopregister opgeteken.
In Bloemfontein, waar ek grootgeword het, was ek nooit bewus van die lente nie. ­Winter het eenvoudig oorgegaan in somer. Boonop was wintersdrag in die skool verpligtend, tot aan die einde van die derde kwartaal – tot die einde van September.

Die skoolrok, algemeen be­kend as ’n “jim” wat al die Baby ­boomer-skoolmeisies moes dra, was onhoudbaar warm.

Voeg daarby die lang swart kouse en dan is daar in die ­Rosestad geen sprake van ’n koel, ­lenteweer-ervaring nie.

Cornelia de Kock.
Cornelia de Kock. Foto: Verskaf.

Langs die oranje kappertjie­tapyt op die wal van die Eerste­rivier het ek as eerstejaarstudent my eerste lente beleef. Die Skotse sanger Kenneth McKellar se Afrikaanse woorde op die wysie van “Scottland the Brave” is ’n universele ode aan die lente en studenteliefde:
“Nooientjies se goue laggies,
Fluister hul ore saggies . . .
Dit is die goue lente en ons is saam studente . . .”

Lente is ook vol heimwee; dit word dikwels ’n terugreis na die verlede. Dit laat my dink aan die woorde van doktor Con de Villiers: “ ’n Mens moet nooit die pad na die verlede soek nie; ’n mens moet dit met renosterbos­sies laat toegroei.” Dan korrigeer hy homself: “Nee, wat, ’n mens moet juis nie die pad na jou verlede laat toegroei nie, al laat jy net ’n vaal strepie tussen slangbossies, pendorings, voëlent en wilde dagga oop.”

Skielik kry jy ’n kykie op veldblomme tydens die lente in die Overbergse rûensveld.
’n Wit konfetti-mat bedek die grond waar die May flower in September op die Afrika-vasteland blom.
’n Ware Laetitia: * “. . . my ­bruid my skat, in wit gewaad”.

Dan word ek weer ’n jong ma en sien my kunstige dogtertjie se Barbie-pop met ’n meiblom as bruidsruiker in haar rubber­handjie.
Die lente verplaas my na Kalifornië. In my oprit blom die Kaliforniese papawers. Met trots vertel ek aan ’n Engelssprekende leerder wat haar Afrikaans wil verbeter dat ons dit in Afrikaans Knakkoppies noem.

My agtjarige kleindogter neem my verduideliking oor en demonstreer met ’n knikkende koppie waar ons terminologie vandaan kom.

Hier by ons is September steeds die maand van die liefde. Die voëls raak bedrywig, in die woorde van Totius (Psalm 84): “Die mossie vind ’n huis, o Heer, die swaeltjies lê in nessies neer”.

Die mens bly nie ver agter nie – blykbaar word heelwat babas in Junie gebore!

Met baie jaarringe op my kerfstok voltooi ek weer my nostalgiese reis: AG Visser was reg; vir sommiges kom die liefde net eenmaal weergaloos. Ek plaas ’n ou Master’s Voice-plaat op die draaitafel en luister na “Das gib’s nur einmal”, ’n lied uit 1931: Vir die gelukkiges is dit ’n idille wat waar word: “Lag ek? Is ek wakker?

“Waar ek ook al gaan, glimlag die mense vir my: Vandag word die sprokie waar.

“Vandag is alles vir my glashelder: Dit gebeur net een keer; dit kom nie weer nie. Dis amper te goed om waar te wees – soos ’n geskenk uit die hemel. Dit gee die lewe net eenmalig, want elke lente het net een September . . .”

*A.G. Visser

  • De Kock is ’n afgetrede kultuur­historikus van Stellenbosch.

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos