As die staat sy sin kry kan die EFF-leier, Julius Malema, tot 15 jaar gestraf word in sy uitgerekte vuurwapensaak wat vandag weer vir vonnisverrigtinge in die landdroshof in KuGompo-stad (Oos-Londen) aangehoor word.
Malema is reeds in Oktober verlede jaar skuldig bevind op verskeie aanklagte, insluitend die onwettige besit van ’n vuurwapen en die afvuur daarvan in ’n beboude gebied.
Die saak spruit uit ’n voorval in 2018 tydens die EFF se vyfde verjaarsdagvieringe by die Sisa Dukashe-stadion, waar hy glo ’n geweer in die lug afgevuur het.
Die hof sal oor die volgende twee dae verswarende en versagtende omstandighede aanhoor voordat landdros Twanet Olivier ’n vonnis oplê.
Die staat voer aan dat ’n streng straf nodig is om ’n duidelike boodskap te stuur oor onwettige vuurwapengebruik, terwyl Malema se regsverteenwoordigers waarskynlik sal argumenteer dat ’n ligter vonnis met die opsie van ’n boete gepas is.
Sommige strafregkenners wys daarop dat die aanklagte ernstig is en dat direkte tronkstraf ’n werklike moontlikheid bly, veral gegewe die aard van die oortredings en die publieke konteks waarin dit plaasgevind het.
Ander meen weer dat Malema met ’n ligter straf sal wegkom aangesien hy geen vorige kriminele vervolgings van die aard het nie.
Die saak word wyd beskou as ’n toets vir die regstaat, spesifiek of prominente politieke figure op dieselfde wyse as gewone burgers aanspreeklik gehou word.
Die uitkoms hou verreikende politieke implikasies vir Malema in. Sou hy vir meer as 12 maande gevonnis word sonder die opsie van ’n boete, sal hy vir minstens vyf jaar nie in die nasionale vergadering kan sit nie.
Malema het vroeër die week aangedui dat hy ’n swaar vonnis sal appelleer. Sou die landdroshof sy aansoek om verlof tot appèl van die hand wys, sal sy regspan die hooggeregshof nader.
Malema sê ook hy sal aansoek doen vir sy borgtog om verleng te word.
Honderde EFF-ondersteuners het sedert vroeg vanoggend buite die landdroshof byeengekom.
