Die VF Plus se besluit om die Referendum-party te absorbeer, kan die party se groeiende steunbasis ondermyn en hom in ’n “gevaarlike rigting” stuur, waarsku Christo van der Rheede, voorsitter van die FW de Klerk-stigting.
Volgens Van der Rheede is die skuif problematies omdat dit die VF Plus verbind aan ’n idee wat hy as ongrondwetlik en verdelend beskou.
“Deur met die Referendum-party in die bed te klim, is die VF Plus besig om in ’n rigting te beweeg wat hul steun ’n lelike knou kan gee,” sê hy.
Hy meen die party het onder leiding van dr. Pieter Groenewald juis geloofwaardigheid opgebou deur ’n nie-rassige grondslag te vestig, maar dat die assosiasie met afstigting dié beeld kan skaad.
“Afstigting kom neer op neo-apartheid, omdat dit Suid-Afrikaanse burgers weer op grond van etnisiteit wil verdeel en uitsluit,” sê hy.
Van der Rheede waarsku oor die praktiese gevolge van afstigting.
“In die praktyk sal dit beteken dat, indien die Wes-Kaap onafhanklik funksioneer, ’n burger van ’n ander provinsie skielik ’n paspoort of visum nodig sal hê om in die Wes-Kaap te werk. Dit druis lynreg in teen die grondwetlike beginsel dat Suid-Afrika aan al sy mense behoort en ondermyn die reg tot vrye beweging,” sê Van der Rheede.
Hy glo die fokus moet eerder wees op devolusie – die verskuiwing van meer mag na provinsiale en plaaslike regerings – sonder om die land op te breek.
“Daar is geen rede waarom sekere nasionale funksies, soos polisiëring, nie groter op provinsiale vlak bestuur kan word nie. Dit is ’n realistiese alternatief tot die absurde idee van afskeiding,” sê hy.

Die VF Plus hou egter vol dat sy beleid onveranderd bly.
Dr. Corné Mulder, leier van die party, sê die opname van die Referendum-party beteken nie dat die VF Plus ook nou vir die afstigting van die Wes-Kaap gaan vra nie.
“Selfbeskikking bly sentraal tot ons beleid, maar dit beteken die afwenteling van magte na provinsies – nie afskeiding nie,” sê Mulder.
Die Referendum-party, wat in 2023 gestig is en vir die afstigting van die Wes-Kaap vra, het onlangs ontbind en by die VF Plus aangesluit. Die samewerkingsooreenkoms is op 25 Maart aangekondig.
Mulder verwerp ook kritiek dat die skuif die party stemme kan kos. “Ons sien tans ’n toename in lidmaatskapaansoeke uit verskeie gemeenskappe. Hierdie stap versterk eerder ons voetspoor,” sê hy.
Hy beklemtoon verder dat die party se deelname aan die regering van nasionale eenheid onveranderd bly en dat daar geen beleidskuiwe was nie.
Theuns Eloff, politieke ontleder, sê die samewerkingsooreenkoms moet as strategie gelees word eerder as ’n ideologiese verskuiwing.
“Dis nie noodwendig ’n skuif wat vir my sê dat die VF Plus die Kaap onafhanklik wil maak nie. Dr. Mulder is slim genoeg om te weet dit sal nooit gebeur nie.
“Ek dink dis maar ’n strategiese skuif om voor die plaaslike verkiesing later vanjaar ’n bietjie meer steun te wen. Spesifiek by ’n party soos die DA.
“Die leiers van die VF Plus en die DA sit nie altyd langs dieselfde vuur nie,” sê Eloff.
