Meer as 5 000 mense is tussen Januarie en Maart vanjaar in Suid-Afrika vermoor.
Volgens die vierde kwartaal se misdaadstatistieke vir die 2025/2026-boekjaar is 5 181 moorde landswyd aangeteken – 546 minder as die 5 727 moorde wat in dieselfde kwartaal verlede jaar aangemeld is. Dit verteenwoordig ’n daling van 9,5%.
Die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, het Vrydag in Pretoria gesê die syfers wys wel op vordering, maar dat die vlakke van geweld steeds “heeltemal onaanvaarbaar” hoog bly.
“Hierdie syfers is nie net nommers nie. Agter elke statistiek is daar ’n getraumatiseerde slagoffer, ’n bedroefde familie en ’n gemeenskap wat in vrees leef,” het Cachalia gesê.
Hy het gesê die land beleef steeds gemiddeld 58 moorde per dag.
“’n Afname in misdaad beteken nie mense is veilig nie. Die vlakke van geweld en misdadigheid in Suid-Afrika bly veels te hoog,” het hy gesê.
Volgens Cachalia het geweldsmisdade, wat deur die polisie as kontakmisdade geklassifiseer word, met 4,6% afgeneem. Dit beteken 7 405 minder gevalle van geweldsmisdaad is aangemeld as in dieselfde tydperk verlede jaar.
Hy het gesê huisrooftogte het met 20,4% gedaal, sakerooftogte met 18,3%, en rooftogte by nie-residensiële persele met 22%. Ontvoerings het ook met 2% afgeneem.
Cachalia het egter gewaarsku dat geweld diep gewortel bly in gemeenskappe en dikwels binne huishoudings plaasvind.
“Die huis, waar mense eintlik die veiligste behoort te wees, is vir te veel van ons mense ’n gevaarlike plek,” het hy gesê.
Volgens die statistieke het 1 523 moorde in die woning van die slagoffer of oortreder plaasgevind, terwyl byna die helfte van alle verkragtings – 4 620 uit 9 782 gevalle – by huise gepleeg is.
“Geweld in Suid-Afrika gaan nie net oor vreemdelinge wat vreemdelinge aanval nie. Dit gaan oor lewensmaats, familielede, bure en kennisse,” het Cachalia gesê.
Hy het gesê argumente, jaloesie, padwoede en wraak bly groot drywers van geweldsmisdaad. Volgens die syfers is 898 moorde aan argumente en misverstande gekoppel, 299 aan vigilante-optrede en 251 aan wraakaanvalle.
Cachalia het ook die rol van alkoholmisbruik in geweld beklemtoon.
“Hoe meer alkohol ons gebruik, hoe meer geweld sal ons ervaar. Ons moet hierdie werklikheid erken en begin optree om alkoholmisbruik te verminder,” het hy gesê.
Volgens die statistieke is 7 267 gevalle van moord, poging tot moord, verkragting en ernstige aanranding met alkoholgebruik verbind.
Die minister het verder gewaarsku dat georganiseerde misdaad steeds ’n groot bedreiging vir die land bly, veral in ekonomiese spilpunte soos Gauteng, die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.
“Dit is nie opportunistiese misdade nie. Dit is die werk van georganiseerde misdaadsindikate wat hoogs mobiel, swaar gewapen en diep gevestig in ons ekonomiese sentrums is,” het hy gesê.
Hy het spesifiek verwys na afpersing en die sogenaamde “boumafia”, wat volgens hom dienslewering kniehalter, klein ondernemings vernietig en belegging afskrik.
Cachalia het gesê die polisie beplan nou ’n “reset”-strategie om polisiëring te verbeter.
“Ons doel is om ’n moderne, professionele en betroubare polisiediens te bou wat die veiligheid van ons mense eerste stel,” het hy gesê.
Hy het bevestig dat daar groter fokus op gemeenskapspolisiëring en samewerking met plaaslike veiligheidsstrukture gaan wees.
“Die polisie moet saam met mense op plaaslike vlak werk om doeltreffend te wees,” het hy gesê.
AfriForum: ‘Minister moet nou daad by die woord voeg’
Intussen het die burgerregteorganisasie, AfriForum, gesê die jongste syfers wys dat die polisie steeds nie daarin slaag om gemeenskappe voldoende te beskerm nie.
Volgens AfriForum bly geweldsmisdaad “kommerwekkend hoog”, ondanks die geringe daling in sekere kategorieë.
Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, het gesê polisiëring kan nie effektief vanuit ’n sentrale bestuursmodel bestuur word nie omdat misdaaduitdagings van streek tot streek verskil.
Hy het gesê die organisasie verwelkom Cachalia se positiewe houding teenoor groter samewerking met plaaslike veiligheidstrukture.
“Die waarnemende minister moet nou daad by die woord voeg en amptelike samewerkingsooreenkomste met plaaslike veiligheidstrukture aangaan sodat daar nie net ’n geringe daling in die misdaadstatistieke aangeteken word nie, maar ’n daadwerklike verskil op voetsoolvlak gevoel word,” het Broodryk gesê.
Volgens AfriForum dien sy 177 plaas- en buurtwagte reeds as ’n “magsvermenigvuldiger” vir die polisie in verskeie gemeenskappe.
