VSA-president Donald Trump het sy land se skietstilstand met Iran verleng om meer tyd vir vredesgesprekke toe te laat, terwyl Teheran nog vroeg Woensdag stilgebly het oor dié besluit.
Trump het aan die einde van die skietstilstand van twee weke, dié ooreenkoms onbepaald uitgestel op versoek van die middelman Pakistan en beklemtoon dat Iran se “gebroke” leierskap tyd nodig het om ’n ooreenkomsvoorstel saam te stel.
Die VSA se blokkade van Iranse hawens bly egter in plek.
In ’n Truth Social-plasing Dinsdag het die Amerikaanse president Iran daarvan beskuldig dat hulle die Straat van Hormoes oop wil hou “sodat hulle $500 miljoen per dag kan maak”, wat volgens hom in gedrang kan kom indien dit gesluit bly.
Trump het volgehou dat die voortsetting van die VSA-blokkade van die kritieke seestraat noodsaaklik is om ’n ooreenkoms met Iran te bereik.
“Vier dae gelede het mense my genader en gesê: ‘Meneer, Iran wil die seestraat onmiddellik oopmaak.’ Maar as ons dit doen, kan daar nooit ’n ooreenkoms met Iran wees nie, tensy ons die res van hul land opblaas, insluitend hul leiers!,” het Trump geskryf.
In ’n vroeëre plasing het hy aangedui dat hy nie die skietstilstand wou verleng nie en gewaarsku dat die aanvalle hervat sou word wanneer dit verstryk.
“Ek het ons weermag opdrag gegee om die blokkade voort te sit en in alle ander opsigte gereed te bly, en sal daarom die skietstilstand verleng totdat Iran ’n voorstel indien,” het hy geskryf.
Voor Trump se laaste-minuut-ingryping was dit onduidelik wanneer die oorspronklike skietstilstand sou verstryk, met Pakistan wat aangedui het dit sou Woensdagoggend om 01:50 SA tyd eindig.
Daardie tyd het verbygegaan sonder enige berigte van nuwe militêre optrede deur Iran, wat gesê het die skietstilstand sou om 02:00 SA tyd eindig. Iran het nog nie op Trump se verlenging gereageer nie.
Die toekoms van vredesgesprekke wat deur Pakistan aangebied word, bly onseker ná Trump se aankondiging.
’n Amptenaar van die Withuis het bevestig dat vise-president JD Vance nie soos beplan na Pakistan sou reis nie, hangende die indiening van ’n Iranse voorstel.
- Hierdie artikel is verwerk van AFP. Lees die volledige berig op NovaNews hier.
