Sacha FM vier groot mylpaal vir Stormers, maar stryd teen Glasgow kom nou eerste

Die Stormers-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu.
Die Stormers-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu. Foto: Facebook.

Hoewel die Springbok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu Saterdag ’n belangrike mylpaal vir die Stormers sal behaal, is dit moeilik om onlangse kritiek van sy spelpeil aanlyn te ignoreer.

Feinberg-Mngomezulu sal vir die 50ste keer in ’n Stormers-trui uitdraf as sy klubspan teen die Glasgow Warriors in Kaapstad kragte meet.

Tog is alles nie maanskyn en rosegeur nie. Feinberg-Mngomezulu loop sterk onder kritiek deur hierdie jaar, veral oor sy rol as kaptein van die span, verbroude stelskoppe en swakbesluitneming op die veld.

“Ek verstaan net nie die wêreld waarin ons nou leef nie, waar jy iemand soos Salmaan Moerat kan afbreek, of ’n speler soos Sacha [Feinberg-Mngomezulu], wat duidelik ’n talent van ’n generasie is, kan bevraagteken op hierdie manier op sosiale media,” het Stormers-breier, John Dobson, destyds gesê.

“Ja, ek dink ek sien dit alles omdat ek op sosiale media is,” het Feinberg-Mngomezulu onlangs aan die media gesê.

“So, of ek daarvan hou of nie, dit is reg voor my.”

Hoewel hy trots voel oor sy mylpaal, is die belangrikste doel voor oë om Glasgow Saterdag te wen.

“Om eerlik te wees, fokus ek nie te veel daarop nie,” het hy gesê.

“Ek is baie trots op myself en dankbaar vir al die wedstryde wat ek tot dusver gespeel het. Maar dit is nie iets waaraan ek nou regtig dink nie, waarskynlik eers Saterdagoggend.”

“Ek leef maar van dag tot dag en sal dan die oomblik inneem.

“Vir nou wil ek net myself en die ouens om my so goed moontlik voorberei sodat dit Saterdag ’n spesiale geleentheid kan wees.”

Die Stormers weet hoe belangrik Saterdag se wedstryd is, veral ná die nederlaag teen Connacht, iets wat Feinberg-Mngomezulu as “’n dolk in die hart” beskryf het.

“Ons wil die werk afhandel en seker maak ons is trots aan die einde daarvan,” het hy bygevoeg.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie