New York Modeweek, een van die wêreld se bekendste modegeleenthede, het aangekondig dat regte dierepels voortaan van sy loopplanke af verban sal word.
Dié besluit, wat vanaf September in werking tree, beteken dit is die eerstekeer in geskiedenis dat pels amptelik verbied word.
New York Modeweek word sedert 1940 jaarliks aangebied en word as ’n belangrike barometer vir wêreld se modetendense beskou.
Die Raad van Modeontwerpers van Amerika (CFDA) het die besluit vroegtydig aan ontwerpers gekommunikeer sodat hulle genoeg tyd het om hul versamelings aan te pas.
Volgens die nuwe reëls sal pels van diere wat spesifiek vir hul velle geboer of gevang is, nie toegelaat word nie. Dit sluit onder meer mink, vos, haas, karakoellam, chinchilla, coyote en wasbeerhond in.
’n Uitsondering geld slegs vir pels wat deur inheemse gemeenskappe verkry word deur tradisionele bestaansjagpraktyke.
New York sluit hiermee aan by ander internasionale modehoofstede wat reeds soortgelyke stappe geneem het. London Modeweek het in 2023 sy bevordering van pels op hul loopplanke beëindig, terwyl modeweke in Kopenhagen, Berlyn, Stockholm, Amsterdam, Helsinki en Melbourne ook reeds wegbeweeg het van dierepels.
Vroeër vanjaar het Condé Nast, eienaar van publikasies soos Vogue, Vanity Fair en Glamour, ook dierepels in redaksionele inhoud en advertensies verban. Dit volg op soortgelyke besluite deur tydskrifte soos ELLE en InStyle.
Steven Kolb, uitvoerende hoof en president van die CFDA, sê hoewel min tot geen pels reeds by New York Modeweek vertoon word, is die besluit simbolies belangrik.
“Deur hierdie standpunt in te neem, hoop die CFDA om Amerikaanse ontwerpers aan te moedig om die modebedryf se impak op diere dieper te oorweeg,” verduidelik Kolb.
“Verbruikers beweeg weg van produkte wat met dieremishandeling verbind word, en ons wil Amerikaanse mode as ’n leier op dié gebied posisioneer, terwyl innovasie met materiaal ook bevorder word,” het hy gesê.
