Nog 4 jaar vir Danny Jordaan, of is daar meer geskikte kandidaat?

Danny Jordaan. Foto: KickOff
Danny Jordaan. Foto: KickOff

Dan Malesela meen daar is nie genoeg gekwalifiseerde mense in Suid-Afrika om Danny Jordaan as president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (SAFA) op te volg nie.

Jordaan se huidige termyn as SAFA-president loop einde se kant toe. Die vereniging se verkiesingskongres, wat op 12 September 2026 plaasvind, sal oor sy politieke toekoms beslis.

Jordaan beoog om hom vir ‘n vierde termyn verkiesbaar te stel, wat hom nog vier jaar aan die stuur van Suid-Afrikaanse sokker kan hou.

Ná 13 jaar as SAFA-president staar Jordaan egter teenkanting in die gesig van AmaZulu FC-president en sakeman Sandile Zungu. Zungu se maatskappy, Sizekhaya Holdings, bestuur tans Suid-Afrika se nasionale lotery.

Ondersteuners van Zungu glo sy aanstelling as SAFA-president sal die verhouding tussen SAFA en die Premier Sokkerliga (PSL) verbeter.

Malesela het aan KickOff gesê: “Die grootste vraag is wie Jordaan sal opvolg as hy uittree. Dit sal nie wys wees om iemand met direkte sakebelange in die PSL aan te stel nie, want ons het al gesien watter probleme dit kan veroorsaak. SAFA het iemand nodig wat hom uitsluitlik op die organisasie toespits.”

Hy het verder gesê sy grootste kritiek op die huidige SAFA-leierskap is die gebrek aan ‘n langtermynvisie vir ontwikkeling.

“Die SAFA School of Excellence is volgens gerugte in die bedryf byvoorbeeld aan Chippa Mpengesi oorgedra,” het hy gesê.

Malesela glo nuwe leierskap is noodsaaklik.

“Ons het mense nodig wat sokker deur en deur verstaan, verkieslik voormalige topspelers, wat vroeg reeds geïdentifiseer en vir leierskap ontwikkel word. Suid-Afrika sukkel met opvolgbeplanning omdat ons nie toekomstige leiers betyds identifiseer en ontwikkel voordat die huidige leiers vertrek nie.

“Potensiële leiers moet reeds terwyl hulle nog speel raakgesien en voorberei word om kontinuïteit te verseker.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie