Jannik Sinner (24) het Sondag sy Wimbledon-titel suksesvol verdedig deur die Franse Ope-kampioen Alexander Zverev (29) ná vier taai stelle in die eindstryd te klop.
Die wêreld se nommereen het herstel nadat hy die eerste stel verloor het in ’n wedstryd wat deur sterk afslaanwerk oorheers is. Hy het uiteindelik sy opponent met 6-7 (7/9), 7-6 (7/2), 6-3, 6-4 in drie uur en 46 minute gewen.
“Jy voel die senuwees Sondagoggend. Dit is ’n baie spesiale plek,” het Sinner gesê. “Jy weet nooit hoeveel keer jy sal terugkom nie. Ek neem dit nooit as vanselfsprekend nie.”
Die Italianer het sy eerste Grand Slam-titel sedert hy 12 maande gelede die trofee by die All England Club omhoog gehou het, gewen. Sinner se vyfde Grand Slam-titel plaas hom net twee agter sy beseerde mededinger Carlos Alcaraz se totaal, nadat hy sy 100ste oorwinning by tennis se vier grootste toernooie behaal het.
Hy het 58 wenners teenoor net 25 ongedwonge foute geslaan en geweier om onder druk te swig teen ’n Zverev-aanval wat met ’n wenreeks van 13 Grand Slam-wedstryde die eindstryd gehaal het.
“Dit was weer eens ’n ongelooflike eindstryd. Dit verg twee spelers,” het Sinner gesê, wat die wenprys van £3,6 miljoen (sowat R88,2 miljoen) ontvang het. “Ek is baie bly oor die oorwinning, maar veral oor die vlak waarop ons gespeel het.”
