Nóg ‘n goue vir Pieter Coetzé en medalje-oes in swembad neem toe

Michael Houlie. Foto: Anton Geyser/Team SA
Michael Houlie. Foto: Anton Geyser/Team SA

Suid-Afrika het Sondag (Dag 4) van die 2026 Statebondspele met nege medaljes afgesluit nadat nog drie medaljes Sondag in die swembad by Tollcross Internasionale Swemsentrum ingepalm is. Al nege van die span se medaljes tot dusver is in swem verower.

Buite die swembad het die Protea-netbalspan Tonga met 96-42 oorrompel om hul tweede oorwinning in Groep A te behaal en hulself goed te posisioneer vir sleutelwedstryde teen Engeland en Australië.

BOKS

Mans-bantamgewig (55 kg), agtstefinaal: Masibulele Siqwela het met punte (4-0) teen Mqengo Mwale van Zambië verloor.

GIMNASTIEK

Vroue artistiese veelsydige eindstryd: Naveen Daries was 10de met 49.100 punte, terwyl Zelme Daries 13de geëindig het met 48.250.

ROLBAL

Vrouepare, Groep B: Jackie Janse van Rensburg en Thabelo Muvhango het die groepvoorlopers, Engeland, verras met ‘n 9-0, 3-4, 1-0 (uitspeelstryd)-oorwinning. Daarna het hulle Malta met 2-0 (7-0, 8-5) geklop, maar is steeds uit medalje-aanspraak.

Mansenkelspel, Groep B: Wayne Rittmuller het sy tweede agtereenvolgende nederlaag ná ‘n uitspeelstryd gely toe hy met 8-5, 5-8 (0-1) teen Shannon McIlroy van Nieu-Seeland verloor het.

PARA-ROLBAL

Gemengde pare (B2-B3): Princess Schroeder en Keith Orwell het Nieu-Seeland ná ‘n uitspeelstryd met 1-9, 4-2, 1-0 verslaan, maar is ook uit medalje-aanspraak.

NETBAL

Groep A: Suid-Afrika het Tonga met 96-42 afgeransel nadat hulle Saterdag Malawi met 65-44 geklop het.

Rolene Streutker het 51 doele aangeteken, Sammy Ngubane 34 en Kamogelo Maseko 11.

SWEM

Mans 50 m borsslag: Michael Houlie was die vinnigste in die uitdunne (26.53) en het ook sy halfeindstryd gewen om as vinnigste vir die eindstryd te kwalifiseer. Chris Smith het as vierde vinnigste deurgedring.

Mans 200 m rugslag: Pieter Coetze het sy uitdun gewen en daarna die eindstryd in 1:54.22 gewen om sy tweede goue medalje én nog ‘n Statebondspele-rekord op te eis.

Mans 100 m vlinderslag: Chad le Clos het vyfde geëindig in 51.49.

Mans 50 m vryslag: Calvyn Justus was vyfde in 22.17.

Vroue 100 m rugslag: Olivia Nel het die beste wedren van haar loopbaan geswem en brons in 1:00.09 gewen.

Vroue 100 m vryslag: Caitlyn de Lange het vir Maandag se eindstryd gekwalifiseer, terwyl Olivia Nel onttrek het.

Vroue 100 m vlinderslag: Erin Gallagher het vir die eindstryd gekwalifiseer, maar Dune Coetzee het uitgemis.

Vroue 100 m borsslag: Aimee Canny het silwer in 1:06.19 gewen. Kaylene Corbett was sesde en Rebecca Meder sewende.

PARA-SWEM

Mans 100 m rugslag: Christian Sadie het sewende geëindig in 1:15.82.

ROLSTOELBASKETBAL

Vroue 3×3: Suid-Afrika het met 20-5 teen Australië verloor en speel volgende teen Engeland.

Mans 3×3: Suid-Afrika het Wallis met 16-12 geklop vir hul eerste oorwinning van die toernooi.

GEWIGOPTEL

Mans 65 kg: Zach Snyman moes onttrek nadat hy 105 kg in die rukstoot gelig het. Hy is as DNF (nie voltooi nie) aangeteken.

Gaan na Team SA vir meer inligting


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie