Omstrede skepper van ‘Body Worlds’ gaan dalk sélf uitgestal word

Gunther von Hagens
Gunther von Hagens. Foto: wikipedia.org

Gunther von Hagens, die Duitse skepper van die omstrede “Body Worlds”-uitstallings van ontlede mens- en diereliggame, is op 81-jarige ouderdom oorlede, het sy familie Maandag bevestig.

Hulle het in ‘n verklaring gesê dit was Von Hagens se uitdruklike wens dat sy eie liggaam ná sy dood vir plastinering beskikbaar gestel word – die tegniek wat hy ontwikkel het om menslike oorskot te bewaar.

“Dit was Gunther von Hagens se eie wens om sy liggaam ná sy dood vir plastinering beskikbaar te stel,” het die familie gesê.

“Sy familie sal hierdie wens respekteer en uitvoer.”

Von Hagens, ‘n anatoom, dosent en entrepreneur wat die bynaam “Dr. Dood” gekry het, het in die 1970’s die plastineringsproses ontwikkel. Die metode behels dat water en vet uit mens- en dierweefsel verwyder en met chemiese verbindings vervang word.

Hy het die liggame daarna in lewensgetroue houdings uitgestal om spiere, geraamtes en inwendige organe te toon. Die uitstallings het miljoene besoekers wêreldwyd gelok, maar het ook gereeld oproepe tot verbod ontlok.

Hy is daarvan beskuldig dat hy voyeurisme bevorder en kommersieel uit die dood voordeel trek. Omstredenheid rondom sy werk is verder aangevuur deur ‘n lykskouing wat hy in 2002 in Londen voor ‘n regstreekse gehoor en kameras uitgevoer het.

Die Body Worlds-uitstalling het ook in ‘n toneel van die 2006 James Bond-film Casino Royale verskyn.

Von Hagens is op 10 Januarie 1945 in die destyds Nazi-besette Pole gebore en het in kommunistiese Oos-Duitsland grootgeword.

Hy is tronk toe gestuur nadat hy probeer het om uit Oos-Duitsland te vlug, maar het later Wes-Duitsland bereik waar hy, ná sy mediese studies, die plastineringsproses in 1977 ontwikkel het.

Volgens sy span is Von Hagens Vrydag oorlede. Hulle het hom beskryf as “‘n pionier, navorser, uitvinder” en “‘n ikonoklastiese en soms omstrede denker” wat anatomie deur sy werk vir die breër publiek toeganklik gemaak het.

Sy vrou en medewerker, Angelina Whalley, het gesê:

“Gunther wou mense ‘n blik onder die vel gee – nie uit sensasiebejag nie, maar uit die diep oortuiging dat kennis van jou eie liggaam tot ‘n meer bewuste, gesonde en verantwoordelike lewe kan bydra.

“Sy werk was wetenskaplik, opvoedkundig en diep humanisties. Hy het miljoene mense gehelp om hul eie liggame in ‘n nuwe lig te sien.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie