Oogpunt: Geordin Hill-Lewis moet kabinet toe

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, is die DA se nuwe federale leier.
Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, is die DA se nuwe federale leier. Foto: Facebook.

Twee verskynsels keer dat Suid-Afri­ka selfs net op die mees basiese vlak redelike regering en dienslewering kan kry.

Die een is die wurggreep wat misdaadsindikate op sommige politici, staatsdepartemente en gevolglik staatgeld het.

Die Madlanga-kommissie onthul daagliks hoe gesteel, gemanipuleer en korrupsie en selfs moord gepleeg word.

Die tweede is die Mandelabaai-metro, waar 10 partye drie of minder setels het en  die septer sonder ’n volstrekte meerderheid swaai – sonder dienslewering.

Dis dalk deel van faksiegevegte eer­der as geregtigheid, maar dit gaan tans nie juis goed met die sindikate nie. Hulle word een vir een ontbloot. Hulle het egter die geleentheid vir ’n dramatiese her­stel, sou ’n ANC/MK-party/EFF-alliansie in enige owerheidsgebied tot stand kom.

Hoe onbevredigend ook al dat die kwynende ANC steeds die meerderheid in die RNE het, laat dit die land steeds marginaal, maar marginaal genoeg op ’n beter plek as die ander alternatief. Die blote feit dat dit bestaan, stem steeds graderingagentskappe positief en die ekonomiese onderbou verste­wig baie stadig, dog positief.

Daarsonder sou die plan om BTW te verhoog, byvoorbeeld nie gestuit kon word nie. Alle aandui­dings is dat die DA die ANC as die grootste party in verskeie metro’s en plaaslike gebiede kan vervang – dalk in die volgende algemene verkiesing reeds. Maar dit gaan waarskynlik nie genoeg wees om ’n werkbare meerderheid sonder die ANC te vorm nie – net dalk hier en daar saam met die VF Plus, maar meestal nie.

Dié twee partye gaan waarskynlik met een van drie keu­ses gekonfronteer word:

  • Gaan “speel” opposisie en laat die sindikaatfronte regeer.
  • Probeer ’n onwerkbare gedrog soos in Nelson Mandelabaai saamflans.
  • Sit die RNE-model voort, maar dié keer met die ANC as junior vennoot en red ’n paar plekke waar die ANC steeds die septer swaai.

Uiteindelik sou die laaste opsie die beste kans vir redelike besten­digheid en beter as die slegste opsie wees. Die DA en die VF Plus kan sentraal tot dit staan eer­der as om hulle vir ses maande se politieke kitsbevrediging uit enige RNE-model te onttrek. Dit sou histories ’n groot flater wees en die land finaal op die pad van ‘n mislukte staat plaas.

Die DA moet hom toenemend toespits op die groter politieke mark, wat deurbrake moontlik maak, soos sy onlangse oorwinning in die Emfuleni-tussenverkiesing – ingestem deur keelvol mense wat oplossings soek.

Geordin Hill-­Lewis moet sy romantisering om alternatiewe president uit ’n ­burgemeesterstoel te probeer speel, laat vaar. Dit werk nie. Hy moet tot die kabinet toetree en homself direk teenoor die lustelose Cyril Ramaphosa gaan posisioneer.

Die VF Plus moet besef hy gaan sterker moet posisioneer as vlugte­lingkamp vir almal wat, om welke rede ook al, kwaad is vir die DA.

Daardie asem gaan nie tot Novem­ber hou nie. Die party moet opstel as onmisbare middelgrootte krag, wat baie meer invloed as sy grootte uitoefen – iets wat die party al by tye kon regkry.

Die luukse van elkeen wat in sy eie rigting hardloop, is vir partye en keisers wat deel van ’n oplossing wil wees, nie beskore nie.

  • Barnard Beukman is die redakteur van Die Papier.

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie