Oogpunt: Wys kandidate jou kragrekening

Rekening.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Onlangs op kantoor het ek op my selfoon ’n boodskap van my Fungi-toepassing gekry – dit is weer tyd om geld vir elektrisiteit te laai.

Uit die gesprek wat daaruit met kollegas gevolg het, blyk dit dat almal skielik binne ’n jaar etlike honderde rande slegter daaraan toe is. Sommige soveel as R1 000 op hul elektrisiteitrekeninge.

Dan is daar diegene wat nog ’n tradisionele kragrekening kry, waar­op astronomiese bedrae bloot uit die bloute opgelaai word. En om dit uit te sorteer, is bykans onmoontlik. Intussen moet daar net betaal word, of hulle word afgesny.

Die jaarlikse toutrekkery tussen Eskom en die prysreguleerder, Nersa, laat verbruikers toenemend koud. Dit, gewoonlik gepaardgaande met praatjies dat ons elektrisiteit eintlik nog goedkoop is. Daarom bly dit sinvol vir diegene wat dit kan bekostig om kragverbruik toenemend te vervang met selfversor­ging, byvoorbeeld deur sonpanele.

Die groot slang in die gras is egter winsneming deur metrorade en munisipaliteite. Gemiddeld laai hulle sowat 16% wins op die verbruiker se kragrekening. Sommige selfs meer. Van die rade, wat berug is vir swak bestuur, geldmorsery en korrupsie, maak tot ’n derde van hul inkomste daaruit. Dit is tyd dat ernstige vrae hieroor gevra word.

Die veldtog vir die plaaslike verkie­sing is by uitstek die geleentheid vir kiesers om dit op die agenda te plaas. Plaaslike regering behoort in elk geval nie oor partypolitiek te gaan nie, maar eerder oor diens­lewering. Vra jou plaaslike kandidate wat hul beleid is oor die koste van jou kragrekening.

Noem vir hulle dat dit, eerder as blou, geel of groen pamflette met gesigfoto’s en stokou beloftes jou stem gaan bepaal.

Kragrekeninge behoort in beginsel vir kragverbruik te gaan. Ander dienste moet volgens ’n duidelike en toerekenbare kosteskaal hanteer word. Deursigtig en afsonderlik.

Te groot salarisrekenings, te duur voertuie, buitensporige ont­haal- en kosterekeninge en dan die berugte tenders word ’n te lekker soustrein uit ons kragrekeninge.

Boonop kry ons geen waarde vir geld nie – die algehele stand van dienslewering verwys.

Die meeste kiesers kry nie etes by die werk nie. Hulle moet self ’n toebroodjie inpak of iets by die werk se kantien koop, of elders.

Tshwane en Kaapstad het reeds etes vir algemene raadsvergaderings afgeskaf. Hulle kan gerus verder gaan en seker maak dit geld vir alle komiteesittings ook.

Maar in Johannesburg word daar nog alte lekker op kieserskoste geëet. Tot bykans ’n halfmiljoen rand per raadsitting. Dit is net ’n voorbeeld van hoe ’n algemene en ongedefinieerde winsheffing op kragrekeninge misbruik kan word.

Die aantal raadslede en gedupliseerde funk­sies met ander owerheidsvlakke is nog kwessies wat aandag verg. Die getal amptenare teenoor waarde in uitsette is nóg kwessies.

Elke kandidaat wat hom- of haarself beskikbaar stel om ’n raads­lid te word, behoort oor die detail van die sake ingelig te wees.

Dus, gewapen met ’n plan hoe om winsneming op ons kragrekeninge te verskraal, wag hulle in met jou kragrekening en kry hul standpunt op rekord. Kandidate wat kiesers se belange op die hart dra, sal dit deur sinvolle oplossings wys. Die tyd vir Jan en alleman om hieroor rug styf te maak, is nou.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos