Nasionale Vergadering-speaker, Thoko Didiza, het die proses uiteengesit wat die Parlement sal volg ná die konstitusionele hof se uitspraak oor die Artikel 89-vervolgingsproses wat met die Phala Phala-saak verband hou.
Dít als terwyl president Cyril Ramaphosa volhou dat hy nie sal bedank nie.
Ramaphosa het Maandagaand, 11 Mei, die nasie vanuit die Uniegebou in Tshwane toegespreek en gesê hy aanvaar en respekteer die konstitusionele hof se uitspraak, maar het volgehou dat niks in die uitspraak hom dwing om uit sy amp te tree nie.
LEES | ‘Pres. Ramaphosa se besluit oor Phala Phala-verslag mag nie aanspreeklikheid vertraag nie’
Die konstitusionele ho se uitspraak, wat op 8 Mei gelewer is, volg op die saak wat in 2024 deur die EFF en die ATM aanhandig gemaak is, waarin die Nasionale Vergadering se hantering van Artikel 89-vervolgingsverrigtinge teen die president betwis is.
Die uitspraak baan nou die weg ’n staat van beskuldiging, wat ’n nuwe wending in die uitgerekte Phala Phala-saak beteken.
Die saak spruit uit ’n rooftog in Februarie 2020 op Ramaphosa se Phala Phala-plaas in Limpopo, waartydens sowat $580 000 kontant, wat glo in meubels versteek was, gesteel is.
Die hof het gelas dat die onafhanklike paneel se verslag na die Parlement se vervolgingskomitee verwys word.
Die Parlement het gesê dit “bevestig sy respek vir die uitspraak van die konstitusionele hof en sal ten volle aan die hof se bevel en riglyne voldoen”.
Didiza het verskeie stappe uiteengesit wat nou ingevolge die uitspraak sal volg.
Dit sluit in die formele kennisgewing aan die Nasionale Vergadering van die onafhanklike paneel se verslag deur dit via die Parlement se amptelike joernale ter tafel te lê, asook om Ramaphosa “onverwyld, soos deur die konstitusionele hof gelas”, van ’n afskrif van die verslag te voorsien.
Die speaker sal ook begin met die proses om ’n vervolgingskomitee ingevolge Reëls 129J tot 129O van die Reëls van die Nasionale Vergadering saam te stel.
“In nakoming van die hof se uitspraak sal die speaker die proses begin om die vervolgingskomitee saam te stel ingevolge Reëls 129J tot 129O van die Reëls van die Nasionale Vergadering om die Artikel 89-ondersoekproses soos beoog in die Grondwet en die Reëls van die Vergadering te oorweeg,” het die Parlement gesê.
