Reandi Grey groet ‘Boer soek ’n vrou’ ná 2 seisoene

Reandi Grey. Foto: Gys Loubser
Reandi Grey. Foto: Gys Loubser

Reandi Grey sal ná afloop van die 18de seisoen van kykNET se maatsoekreeks Boer soek ’n vrou as aanbieder uittree. Ná twee seisoene op die pad wil sy meer tyd saam met haar man en hul twee jong dogters deurbring.

Sy het aan die begin van seisoen 17 by die program aangesluit en het gou bekend geword vir haar warm, spontane aanslag en bereidwilligheid om saam met die boere hand aan die ploeg te slaan.

Reandi Grey. Foto: Gys Loubser
Reandi is altyd reg vir enigiets. Foto: Gys Loubser

“Om ná twee seisoene afskeid te neem, is meer emosioneel as wat ek verwag het. Dit was jare lank my droom om Boer soek ’n vrou aan te bied. Om te sien hoe mense se stories ontvou en deel te wees van hul groei en liefdesverhale, was ’n ongelooflike voorreg.”

Gesin eerste

Reandi sê die besluit was juis so moeilik omdat sy dit self moes neem.

“Dit sou dalk makliker gewees het as Boer soek ’n vrou my in die pad gesteek het,” skerts sy. 

“Dit sou dalk makliker gewees het as Boer soek ’n vrou my in die pad gesteek het,” skerts Reandi. Foto: Gys Loubser
“Dit sou dalk makliker gewees het as ‘Boer soek ’n vrou’ my in die pad gesteek het,” skerts Reandi. Foto: Gys Loubser

“Om self die besluit te neem was besonder moeilik. Maar die einde van elke hoofstuk is ook die begin van ’n nuwe geleentheid.

“Hoewel ek glo dat Boer soek ’n vrou deel van my roeping was, glo ek my heel eerste roeping is om ’n mamma te wees. Ek wil nie langer enigiets in my dogtertjies se lewens misloop nie.”

Meer as ’n TV-program

Vertroue was vir Reandi een van die belangrikste temas van haar twee seisoene as aanbieder.

“Die boere, familielede en pasmaats maak hul harte vir die liefde oop. Om met iemand se storie vertrou te word, is ’n enorme verantwoordelikheid. Dit is wat die reeks so menslik maak.”

Reandi Grey. Foto: Gys Loubser
Reandi sê die resep werk. Foto: Gys Loubser

Van haar kosbaarste herinneringe is juis die oomblikke wat kykers nie sien nie: stil gesprekke ná ’n moeilike dag, die opgewondenheid wanneer iets moois gebeur en die lag tussen opnames.

Die verhoudings het ook ná verfilming voortgeduur. Reandi het reeds Nicolaas, die skaap- en saaiboer van Bredasdorp uit seisoen 17, en Chantel se troue bygewoon. In September woon sy Pieter, die skaapboer van Richmond, en Anzelle se troue by. In November volg Willie, die makadamia- en wildboer van Badplaas, en Carmen se troue.

“Dit herinner ’n mens dat dit nie bloot ’n TV-program is nie. Dit gaan oor regte mense, regte liefdesverhale en lewens wat verander. Om by ’n Boer soek ’n vrou-troue te wees, het gevoel asof die prentjie voltooi is – ’n mens sien die resep werk.”

Leef in die oomblik

Nog ’n les wat sy saamneem, is om meer teenwoordig te wees. Die onvoorspelbaarheid van die weer en plaaslewe het haar daaraan herinner dat ’n mens nie alles kan beplan nie.

Reandi Grey. Foto: Gys Loubser
“Die boere het my geleer om nie heeltyd na môre te hardloop nie.” Foto: Gys Loubser

“Ons leef in ’n gejaagde wêreld waar alles onmiddellik moet gebeur. Die boere het my geleer om nie heeltyd na môre te hardloop nie, maar dankbaar te wees vir die eenvoudige dinge en vir die dag waarin jy nou is.”

Afskeid met waardering

Reandi beskryf die boere en produksiespan as mense wat vriende en uiteindelik familie geword het – van lang dae se verfilming tot braaie en koffie langs die pad.

“Aan die boere: Ek het as aanbieder ingestap en as ’n vriendin weggestap. Julle het my soveel van die lewe, liefde, hoop, dankbaarheid en vertroue geleer.”

“Mag julle nooit ophou om liefde te ondersteun en in hoop te glo nie.” Foto: Gys Loubser
“Mag julle nooit ophou om liefde te ondersteun en in hoop te glo nie.” Foto: Gys Loubser

Sy sonder die regisseur, Ferdinand van Zyl, uit vir die vryheid om haarself in die program te wees, en die vervaardiger, Elmarie Botha, vir haar vertroue, leiding en ondersteuning.

Sy bedank ook die kykers. Die WhatsApp-groepe, pizza-aande en ander tradisies wat rondom die program ontstaan het, wys volgens haar hoe Boer soek ’n vrou mense bymekaarbring.

“Mag julle nooit ophou om liefde te ondersteun en in hoop te glo nie.”

Die nuwe aanbieder?

Kykers sal nog ’n bietjie moet wag: Reandi se opvolger word ná afloop van die huidige seisoen aangekondig.

Die reeks word oudergewoonte op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos