Die Springbokke het hul volle steun agter Bafana Bafana gegooi voor die span se openingswedstryd teen Mexiko in die Wêreldbeker-sokkertoernooi wat Donderdagaand afskop.
Tydens die eerste mediakonferensie van die internasionale seisoen het die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, gesê die spelers, afrigtingspan en bestuur sien baie uit na die wedstryd en sal dit beslis kyk.
Erasmus het gesê hy het ’n uitstekende verhouding met Bafana-afrigter, Hugo Broos, en dat sommige spelers in albei groepe vriende is. Hy het bygevoeg dat hy hoop die span sal goed vaar by die Wêreldbeker-toernooi.
“Ons sien almal baie uit daarna,” het Erasmus aan die media gesê.
“Ons het oor die jare ’n verhouding met Hugo Broos opgebou. Ons hoop hulle doen goed, en ons weet onder watter druk hulle verkeer. Ons verstaan daardie druk. Maar ons is ongelooflik opgewonde.
“Ons wil dit regtig vanaand kyk. Die ouens sien baie uit daarna.
“En ek dink daardie opgewondenheid het ook ’n bietjie na ons kamp oorgespoel.”
- Vanaand se wedstryd skop om 21:00 af.
