Geluk aan Johan Ackermann en sy span, wat ongelooflike karakter in hul puik terugvegpoging teen die Glasgow Warriors gewys het. Dit was alles te danke aan harde werk en karakter. En dis juis wat dit gaan verg om Leinster volgende Vrydagaand te klop.
Die skrum
Die Bulls het ’n groot voordeel in die skrum – veral as Ierland se loskopstut, Andrew Porter, nie speel nie. Maar Leinster is bewus daarvan en sal planne gereed hê. As jy dus weet hulle weet, en jy weet hulle het planne, wat is jou plan, en watter voordeel kan jy daaruit put?
Kom ons kyk eers wat Leinster moontlik gaan doen. Hulle sal vroeg reeds druk op die Bulls in die skrums probeer plaas deur dit te laat blyk dat hulle te vroeg skrum of die skrum laat val. Leinster sal ook so vinnig as moontlik agter die skrum probeer skoonmaak. Die Bulls sal egter ook uit die blokke die druk op hulle moet plaas om te verseker die haker is onder druk om die bal te haak.

Brandewyn kort Coke
’n Sterk skrum beteken min sonder ’n foutlose lynstaan. As jy ’n strafskop kry en veld wen, maar jou lynstane verloor, waarvoor was dit alles? Die lynstaan en skrum gaan hand aan hand.
Leinster kry ritme op die aanval van swak skoppe. ’n Lang skop veldaf, wat nie gejaag word nie, speel reg in hul hande. Hulle gaan jou stukkend hardloop. Die Bulls se skoppe gaan takties puik geplaas moet wees.
Die afbreekpunte gaan ook ’n groot faktor wees. Dis een van die redes waarom Leinster in die Kampioeneliga-eindstryd teen Bordeaux verloor het. Die Bulls se verdediging was vanjaar nie goed teen vinnige aanvalle nie. Hulle sal die bal by die afbreekpunte moet stadig maak – soos Bordeaux gemaak het.
Soos Bordeaux sal die Bulls ook Leinster se afbreekpunte kliphard moet aanval en ontwrig. Daar is twee maniere hoe die Bulls die eindstryd kan verloor – onnodige strafskoppe en slordige spel. Dissipline en balbesit is ’n moet. Die Bulls moet klinies en geduldig wees.
Die Bulls het ’n pak wat fisiek kan meeding. Verlede jaar het hulle verloor omdat Leinster hulle by die voordeellyn geklop het. Hierdie jaar het die Bulls iets meer spesiaal in hul arsenaal en ’n positiewe kultuur.
’n Wedstryd met skop
Die grootste bron van Leinster se ritme op aanval kom uit los skopwerk. ’n Lang, rigtinglose skop reg in hul arms sonder enige jaagwerk is ’n kardinale fout. Hulle hardloop dit met rente terug. Daarom moet die Bulls se taktiese skoppe gras in die hoeke vind waar daar geen aanloopruimte is nie.
Hoë hangskoppe moet werklik betwis kan word. Wen dit terug, forseer ’n aanslaan, wen die los balle of maak die situasie morsig. Of ten minste moet Leinster die bal wen terwyl die Bulls onmiddellik op hulle is en op hul eie voorwaardes verdedig. Dit is die ideale uitkomste van ’n hangskoppie, wat steeds een van die winsgewendste aksies in rugby bly.
Maar dit kan ook die duurste wees. ’n Onakkurate skop of swak jaagwerk sal jou duur te staan kom teen Hugo Keenan en sy spanmaats. Daar bestaan die idee dat jy skop wanneer jy sonder idees is, maar dit is ’n dom idee. Wanneer jy skop, moet dit op jou voorwaardes wees. Veral teen Leinster.
Die Bulls moet uitstekende planne hê om uit hul doelgebied te kom, duidelike kommunikasie en ’n verhoogde werktempo hê wanneer hulle skop. Jacques Nienaber se blitsverdediging kan kwesbaar wees vir skepskoppe van die skrumskakel af agter die vinnige verdedigingslyn, maar dit moet beplan wees en nie impulsief gebeur nie.
Die Bulls moet dit gekoördineerd doen, op die regte tyd, wanneer hulle momentum het, met verskeie renjaers wat Leinster oorstroom. Dit is ’n geleentheid wat te goed is om te laat verbygaan.

Ontwrig die afbreekpunte
Dit is ’n groot faktor en waarskynlik die belangrikste rede waarom Bordeaux vir Leinster so oorrompel het. Daar word baie oor Leinster se verdediging gepraat, maar dit is dalk hul aanval wat die groter bekommernis vir die Bulls behoort te wees. Die Bulls se verdediging was vanjaar eenvoudig nie goed genoeg teen ingewikkelde aanvallende patrone vanaf vinnige balle nie. Hulle word te nou gevang, vou swak om die afbreekpunte, neem verkeerde besluite en verloor samehang met hul spanmaats.
Een manier om dit te hanteer, is om die spel by die afbreekpunte te vertraag, presies wat Bordeaux gedoen het. Sonder vinnige bal het Leinster aanhou probeer om deur Bordeaux se goed georganiseerde verdediging te speel.
Die ekstra sekonde of twee by elke losskrum het Bordeaux se verdedigers tyd gegee om hul posisies in te neem, rolle toe te ken, spasiëring reg te kry en saam by die verdedigingslyn op te daag. Dit is merkwaardig hoeveel verskil ’n ekstra sekonde of twee aan ’n verdediging maak. En hoe chaoties dit raak wanneer jy nie daardie tyd het om te organiseer nie.
Soos Bordeaux moet die Bulls aggressief wees by Leinster se aanvallende afbreekpunte. Dit begin by die duikslag.
Die Bulls se voorspelers het die krag om Leinster se vinnige bal by die bron te versmoor. Wen die botsing, verhinder die skoonmakers, stoot spelers terug oor die losskrum, gebruik dubbelduikslae om die afbreekpunt in ’n warboel van arms en bene te verander, kompeteer vir elke bal en dwing Leinster om ekstra spelers in te stuur om die situasie te beveilig.
Elke sekonde wat die Bulls wen, gee ’n verdediger meer tyd om beter posisie in te neem, ’n beter besluit te neem, met sy spanmaat in te skakel of vinniger en meer beslis by die afbreekpunt te geld. Hoewel die Bulls steeds verdedigingsprobleme het, kan hulle hulself baie help deur Leinster se aanval van die begin af te smoor.

Selfdissipline
Daar is twee maniere waarop die Bulls die titel aan Leinster kan oorhandig: Goedkoop strafskoppe en los spel. Dissipline en balbesit in hul eie helfte is nie onderhandelbaar nie. Moenie probeer om die held te wees nie. Speel klinies, wees geduldig, gebruik jou voorspelers en vertrou dat druk sy werk sal doen.
Op aanval sal geforseerde aangeë uit die duikslag en ’n ambisieuse aangee onderskep word. Leinster bied soms skynbare ruimte wat eintlik ’n lokval. Neem dus die verstandigste besluit wat op enige gegewe oomblik beskikbaar is, selfs al lyk dit vervelig. Moenie alles op een kans waag nie. Bou jou voorsprong versigtig op.
Geskiedenis en Handré
Uit agt ontmoetings het die Bulls vyf gewen en Leinster drie. In uitspeelwedstryde? Die Bulls het twee halfeindstryd-oorwinnings teenoor Leinster se oorwinning in verlede jaar se eindstryd.
Kan daar iets daaruit geleer word? Ek dink so. Die Bulls beskik oor ’n pak voorspelers wat Leinster fisiek kan ewenaar en hul lewe moeilik kan maak. Jake White se rugby-DNS vloei steeds sterk deur hierdie span.
Dit is egter die moeite werd om te onthou dat een van die redes vir verlede jaar se nederlaag was dat Leinster die voordeellyn beheer het en die Bulls geen antwoord daarvoor gehad het nie. Hierdie jaar se span het meer dimensie en ry op die golf van ’n meer verenigde en positiewe kultuur.
En dan het hulle Handré. Maar kom ons slaan die gewone praatjies oor kalmte en grootwedstrydtemperament oor. Dit is vanselfsprekend. Wat werklik interessant is, is Handré Pollard se ontwikkeling as ’n speler wat die bal goed kan versprei.
Moderne aanvalsrugby vereis dat die losskakel platter speel wanneer sy span momentum het. Goeie aanvalspatrone moet voor die verdediging plaasvind, nie ver daaragter nie. Daar was ’n oomblik in die 21ste minuut teen Glasgow toe Handré die bal tot by die verdedigingslyn geneem het en ’n kort sweefaangee na Willie le Roux gegee het. Die vermoë om plat en laat te speel is noodsaaklik vir ’n moderne losskakel, en hoewel dit nie altyd Handré se sterkpunt was nie, sien ons nou iets nuuts ontwikkel.
Om terug te keer na Loftus en onder Ackers en Neil de Bruin te speel, was dalk presies wat hy nodig gehad het.
Die Handrénaissance is hier!
- Oom Rugby is ’n gewilde rugby-ontleder met meer as 40 000 volgelinge aanlyn en skryf nou weekliks vir DiePapier.
