Springbokke teen Skotland: Dís Die Papier se speler van die wedstryd

Bulls-losskakel Handré Pollard.
Bulls-losskakel Handré Pollard. FOTO: Facebook.

Die amptelike speler van die wedstryd was Handré Pollard. En as die opinies van talle sosialemedia-inskrywings geglo word, is die verkeerde speler vir ’n tweede week in ’n ry aangewys.

Dus sal ons dit met ons keuse bevestig: Handré Pollard ís die speler van die wedstryd, en dit is die regte besluit.

Skotland is een van die beste spanne in die wêreld wanneer dit by hoë skoppe kom wat teruggewen word.

Tog was Pollard rotsvas in die lug. Hy het feitlik al die balle wat sy kant toe gekom het of sekuur gevang of dit vir die Springbokke teruggewen. Teen die Skotse vleuel Kyle Steyn, wat spanne se verdediging week in en week uit oopbreek ná hy balle in die lug terugwen, is dit ’n pluimpie in Pollard se hoed.

Baie is reeds gesê oor hoe naby die telling tussen die twee spanne vir meeste van die wedstryd was. As Pollard se VRK-vorm in dié wedstryd voortgesit is, sou hy nie al sy stelskoppe in punte verander het nie.

As die Bokke ’n rustyd telling van 10-14 of 12-14 gehad het, sou dit aansienlik meer voordeel aan ’n baie sterk Skotse span in die tweede helfte gegee het.

Verder het hy hom goed van sy taak gekwyt om uit te skop. Hy was heel rustig en het baie veld gewen as hy die Bok-span uit hul eie kwartgebied moes skop.

En dan laastens: Pollard het ’n kardinale rol gespeel in twee drieë. Dit was hy wat geduik het om die bal terug te wen ná ’n verbroude lynstaan wat uiteindelik tot Zach Porthen se drie gelei het.

En wie kan sy rolskoppie vir Jesse Kriel se drie vergeet.

Dit is dié twee drieë in die 65ste en 77ste minuut wat die Springbokke buite bereik geplaas het teen ’n Skotse span wat links en regs deur hul verdedigingslyn gebreek het.

Pollard se spel was nie perfek nie; baie mense sal sy verbroude duisklae uitwys. Maar as span het SA 46 keer misgeduik en kan dit beslis nie alles voor Pollard se deur geplaas word nie.

Pollard het ’n kardinale rol gespeel tydens die wedstryd en het weereens bewys dat wanneer hy die groen-en-goud oor sy kop trek, hy pure generaal in ’n Bok-oorwinning kan wees.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie