Vele dank uitgespreek vir Die Kinderfonds

Talle van Die Kinderfonds se begunstigdes het op 28 Mei in Pretoria bymekaargekom vir Die Kinderfonds se jaarlikse samekomsgeleentheid.
Talle van Die Kinderfonds se begunstigdes het op 28 Mei in Pretoria bymekaargekom vir Die Kinderfonds se jaarlikse samekomsgeleentheid. Foto:

Dankbaarheid het die botoon gevoer toe meer as 18 verteenwoordigers van organisasies, wat deur Die Kinderfonds onder­steun word, aan die einde van Mei in Pretoria vir die jaarlikse geselligheid byeengekom het.

Verteenwoordigers van Thusa, RATA, NG Welsyn, KAMcare, M.E.S., Lesedi Day Care, Jakaranda Kinderhuis, CMR Noord, ABBA Sorg, Bethany Huis en Abraham Kriel Bambanani het die geleent­heid bygewoon. Hulle het terug­voering gegee oor projekte, wat danksy finansiering deur Die Kinderfonds, moontlik gemaak word.

Volgens Ricci Bonsaaier, die geldinsamelings- en ontwikke­lingsbeampte van Abraham Kriel Bambanani, is Die Kinder­fonds ’n belangrike bron van ondersteuning aan organisasies, wat daagliks met kwesbare kinders werk.

Links na regs, Merium Moreki van M.E.S, Anne Pretorius van Lesedi Day Care, Ronel Aylward van CMR Noord.
Links na regs, Merium Moreki van M.E.S, Anne Pretorius van Lesedi Day Care, Ronel Aylward van CMR Noord. Foto: Shanell Binedell.

“Die Kinderfonds is ’n anker van hoop vir baie kinders,” het sy gesê.

Verskeie begunstigdes het beklemtoon dat die fonds help om noodsaaklike dienste te finansier, wat andersins vir baie organisasies buite bereik sou wees. By Jakaranda Kinderhuis stel dié bydraes kinders onder meer in staat om toegang tot spraak- en arbeidsterapie te kry, terwyl ander organisasies die geld vir opvoedkundige programme, vaardigheids­ontwikkeling en voorbereiding vir die arbeidsmark gebruik.

Die Kinderfonds skenk nie bloot geld nie, maar gee ­gemeenskappe weer hoop,” het Elsa Meyer, die stigter van ­Thusa, gesê.

Steynman de Bruin, die ondervoorsitter van Die Kinderfonds, het gesê hy is dankbaar vir die werk wat organisasies en individue daagliks doen om ’n verskil in kinders se lewe te maak.

Adrie van Staden, die uitvoerende hoof van Die Kinderfonds, het bevestig die organisasie het gedurende die 2025-’26-boekjaar altesame R3,812 miljoen ingesamel – grootliks in ooreenstemming met vorige jare se tendense, maar prysenswaardig in vandag se ekonomiese druk.

Liezl Landman van KAMcare en Ronel Aylward van CMR Noord by Die Kinderfonds se samekomsgeleentheid op 28 Mei.
Liezl Landman van KAMcare en Ronel Aylward van CMR Noord by Die Kinderfonds se samekomsgeleentheid op 28 Mei.
Foto: Shanell Binedell.

Sy het bygevoeg die organisasie se administratiewe uitgawes beloop minder as 15% van sy jaarlikse inkomste, wat verseker dat die grootste moontlike deel van die geld direk aan projekte vir kinders toege­ken word. Van Staden het ook spesiale erkenning aan hul vennote gegee: “Ek wil graag dankie sê aan ons grootste borge, Die Papier, RSG, VDT Prokureurs en CMV Rekenmeesters, wat ’n groot rol in ons jaarlikse geld­­­-in­samelings vervul.”

Jy kan met ’n bydrae aan Die Kinderfonds ’n kind in moeilike omstandighede help. Jy het ook die kans om ’n Toyota Vitz of R200 000 te wen.

Die Kinderfonds.

Skenk R50 vir een inskrywing en as jy R250 gee, kry jy ’n gratis inskrywing, dus ses in plaas van vyf.

Daar is ook ’n geldprys van R20 000 op die spel vir deelnemers wat voor 7 November ’n totale bydrae van R1 800 of meer gegee het.

  • Gee ’n skenking om inskrywings te kry aan: Die Kinderfonds, Absa, rekeningnommer: 2840157329 en gebruik jou selfoonnommer as verwysing.
  • Kry al die inligting oor al die kompetisie op Die Kinderfonds se Facebook-blad: https://www.facebook.com/diekinderfonds
  • Rig navrae aan Adrie van Staden by 061 479 4791.

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie