Volbank regters kap Kaapstad oor sy watertariewe

Die Wes-Kaapse hooggeregshof in Kaapstad. Foto: GroundUp
Die Wes-Kaapse hooggeregshof in Kaapstad. Foto: GroundUp

’n Volbank regters in die Wes-Kaapse hooggeregshof het Donderdag beslis dat die Kaapstad-metro se omstrede water-tariefmodel, wat op eiendomswaardes gebaseer is, onwettig is.

Die hof het gelas dat dié model teen 30 Junie tersyde gestel moet word.

Die burgerregteorganisasie AfriForum, is een van talle partye wat die aansoek gebring het. AfriForum het aangevoer dat inwoners nie meer moet betaal bloot omdat hul eiendomme hoër waardes het nie. Die aansoek is in Desember verlede jaar aangehoor.

Die hof het beslis dat munisipale dienste, soos water, slegs gehef word volgens werklike gebruik en nie volgens indirekte maatstawwe soos eiendomswaarde nie.

In sy uitspraak het die hof beklemtoon dat tariefstrukture billik, deursigtig en rasioneel moet wees. Dit beteken dat daar ’n duidelike verband moet wees tussen wat ’n inwoner gebruik en wat hy of sy betaal.

Die huidige model, wat eiendomswaarde gebruik as basis vir sekere heffings, voldoen volgens die hof nie aan hierdie vereistes nie.

Jurie Ferreira, streekshoof van AfriForum in die suidstreek, sê die beslissing bevestig dat munisipaliteite nie inkomste mag genereer deur “arbitrêre of indirekte maatstawwe” nie.

“Watergebruik hou geen rasionele verband met die waarde van ’n eiendom nie, en die hof het nou bevestig dat tariefmodelle wat dié benadering volg, onbillik en onwettig optree,” meen Ferreira.

Volgens Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum, het die uitspraak nie net implikasies vir Kaapstad nie, maar ook vir ander munisipaliteite landwyd.

“Munisipaliteite oor die hele land heen sal nou hul tariefstrukture moet herevalueer aan die hand van die duidelike standaard wat die hof nou gestel het, naamlik dat tariewe gekoppel aan verbruik nie opsioneel is nie, maar ’n regsvereiste,” verduidelik Mostert.

Die Kaapstad-metro het nog nie volledig gereageer op die uitspraak nie, maar dit kom op ’n sensitiewe tyd, aangesien munisipaliteite tans hul nuwe begrotings voorberei.

AfriForum sê hulle sal die implementering van die hofbevel monitor om te verseker dat dit korrek toegepas word.

Brett Herron, sekretaris-generaal van die Good-party, het die uitspraak verwelkom. “Ons het baklei vir die stad se inwoners om te betaal vir hul werklike verbruik en nie gegrond op die waarde van hul eiendomme nie. Die hof het daarmee saamgestem.

“Hierdie is ’n wen vir geregtigheid, verantwoordbaarheid en elke huishouding wat onregverdig belas word,” het Herron ná die uitspraak gesê.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie