Blou, toe groen, nou weer blou . . .
Ja, Liam Jacobs het vanoggend vroeg regstreeks op sy Facebook-blad aangekondig dat hy die PA verlaat en “terug is by die huis.” Hy het in Junie laasjaar by die PA aangesluit en het toe ook gesê hy is by die huis.
Jacobs sê as Suid-Afrikaner is hy hier om korrupsie uit te roei en die grondwet en waardes van die land te beskerm.
“Dis die waardes wat wys wie en wat ons. Wanneer ek na my politieke loopbaan kyk moet ek myself vra is my politieke loopbaan in lyn met die waardes waarmee ek grootgemaak is? Is dit in lyn met die waardes wat in ons konstitusie is? Is dit in lyn met waarmee ek tans besig is?”
Geordin Hill-Lewis, Kaapstadse burgemeester en leier van die DA se Federaleraad sê die terugkeer van Liam na die DA is ’n refleksie van die soort party waaraan hulle tans bou.
“Dis ’n groot, groeiende en inklusiewe politieke tuiste vir alle Suid-Afrikaners wie ons land wil laat werk.”
Hille-Lewis sê die DA se groei is aan die toeneem regoor gemeenskappe en die land en sien Suid-Afrikaners al hoe meer dat hulle ernstig is oor die toekoms.
“Ons is nie geïnteresseerd in die chaos van politieke, persoonlike kultusse en leë beloftes nie. Liam het die PA verlaat omdat hy eerstehands gesien het dat die PA nooit sy beloftes nakom nie.
“Mense kies soms die verkeerde pad. Wat saak maak is dat hulle bereid is om die korrekte pad te neem en hulself te herverbind om ’n beter Suid-Afrika te bou.”
