WWLWWWWWWW.
Ja, die Bulls se laaste 10 wedstryde in vanjaar se Verenigde Rugbykampioenskap vertel omtrent ’n storie.
Met hul sege vanmiddag in hul kwarteindstryd met Munster, sal die Bulls volgende Saterdag in Skotland teen Glasgow Warriors te staan kom.
Nie ideaal om oorsee in die halfeindstryd te speel nie, maar die Bulls sal die geleentheid met beide arms wil aangryp om in hul vierde VRK-eindstryd te speel. En dié keer te wen.
Die eindtelling was 45-14 en Embrose Papier is as die speler van die wedstryd benoem.
Skrumskakel Embrose Papier het weer ’n besonderse goeie argument deur sy spel gelewer oor hoekom Rassie hom vir die Springbokke hierdie seisoen moet kies. Papier het die Bulls eerste op die telbord laat geld deur ’n pragtige spanpoging met ’n drie in die vierde minuut af te rond.
Paar minute later het heelagter Willie le Roux se samespel met Kurt-Lee Arendse vir nog ’n drie gesorg.
Behalwe vir ’n strafskop deur Handré Pollard, was dit slegs Munster wat volgende punte aangeteken het. Eers was dit Jack O’Donoghue, en toe Alex Nankivell, wat drieë gedruk het.
Die Bulls het egter die telling met twee vinnige drieë deur Johan Grobbelaar en Cameron Hanekom na 31-14 verhoog teen halftyd.
Papier het weer in die tweede helfte eerste gedruk, dié keer deur die bal te onderskep, en sowat vyf minute later was dit Stravino Jacobs wat agter die pale gaan kuier het.
Pollard se skopskoen, wat hom aan die begin van die seisoen gepla het, was soos ’n skerpskutter. Hy het al die drieë verdoel, en slegs een strafskop misgekorrel.
Dit is werklik jammer dat die Bulls nie weer op Fort Loftus gaan speel nie, al vorder hulle tot die eindstryd. Maar hulle sal hulself troos dat as hulle soos vandag speel, hulle elders in die wêreld bitter moeilik gestop gaan word.
