Dit is moeilik om ’n Sharks-wedstryd te kyk en nie te dink dié span het soveel potensiaal én frustrasie te beleef oor die hoeveelheid kanse wat hulle verspeel nie.
Ja, die eindtelling was 54-19 in die Sharks se guns, maar dit verklap nie die volle storie oor hul sege oor Zebre Parma in Durban nie.
Bok-senter André Esterhuizen het in die eerste 20 minute drie keer gesukkel om met sy aangee sy spanmaats se hande te vind. En boonop ná ’n stormlopie ’n strafskop afgegee omdat daar nie swarttruie is om skoon te maak nie.
Só ook is heelagter Zekhethelo Siyaya deur ’n piepklein gaping met ’n briljante sololopie, net vir die bal om van die grond af met ’n aangee aangeslaan te word.
Bok-kaptein Siya Kolisi het ook ’n bal van die grond af gegaps, en is net voor die doellyn deur Zebre se heelagter, Mirko Belloni, platgetrek. Die bal is weereens nie mooi skoongemaak nie en balbesit word omgekeer.
LEES | Schalk Burger sr. kap na SA Rugby: ‘Ons moes nooit Sanzaar verlaat het nie’
Dit is juis Kolisi en Siyaya se indrukwekkende lopies en drieë wat die hoogtepunte van die wedstryd was.

Kyk, dinge sou werklik verkeerd moes loop vir die Sharks om nie oortuigend te wen nie. Zebre Parma is laaste op die puntelys en het slegs twee van hul wedstryde hierdie seisoen gewen.
Dié wedstryde was die heel eerste twee van die seisoen in September en Oktober verlede jaar teen Edinburgh en toe teen die Lions.
Die Sharks het ook 60% van die balbesit geniet en 61% van die wedstryd in Zebre se gedeelte van die veld gespeel.
Sodoende het die Sharks agt drieë teenoor Zebre se drie gedruk.
Uiteindelik sal die hoë telling die Sharks vlei. Maar hierdie span, met al hul sterre, móét eenvoudig beter presteer in die VRK. ’n Mens wil nie sê ’n span het potensiaal in die heel laaste wedstryd van hul seisoen nie.
Die speler van die wedstryd was heel gepas Kolisi, wat sy laaste wedstryd vir die Sharks gespeel het voor hy by die Stormers volgende seisoen aansluit.
- Lees KickOff Rugby se volledige wedstrydverslag hier.
- Kry al jou rugbynuus in Die Papier, op NovaNews en op KickOff.com.
