VRK: Sharks verkwansel kanse om uitkloprondes te haal

Die Sharks het vroeër hierdie week Skotse kinders by ’n oefensessie ontmoet.
Die Sharks het vroeër hierdie week Skotse kinders by ’n oefensessie ontmoet. Foto: Facebook.

Dit sou altyd vir die Sharks moeilik gewees het om die uitkloprondes in vanjaar se Verenigde Rugbykampioenskap te haal. Hulle sou hul laaste drie wedstryde goed moes wen, en dan hoop dat die spanne bo hulle op die punteleer meeste van hul wedstryde verloor.

Maar nou, is dit feitlik onmoontlik.

Ná verlede week se nederlaag teen die Ospreys in ronde 15, het die Sharks nog net ses van hul wedstryde vir hierdie seisoen gewen. En daardie getal het nié gisteraand met een punt gestyg nie.

Ja, die Sharks het Vrydagaand teen Edinburgh in Skotland nóg ’n frustrerende wedstryd beleef toe hulle ’n wedstryd wat hulle kón wen, verloor het. Met 24 minute se speeltyd oor, het die Sharks nog met 21-14 voorgeloop, voor Edinburgh drie drieë vinnig agtereenvolgens aangeteken het om die wedstryd 33-28 te wen.

Daar moet nog vyf wedstryde vandag gespeel word om hierdie ronde te voltooi, maar die Sharks sou baie nader aan die topagt op die puntelys wou wees indien hulle tydens die laaste twee groepwedstryde hul plek daar wou verseker.

Tans is breier, JP Pietersen, en kaptein, André Esterhuizen, se span in die 10de posisie met 36 punte, agt punte agter Connacht in 9de plek.

Hul laaste twee wedstryde sal beide in Durban plaasvind, wat gelukkig vir hul tuisveldvoordeel sal besorg. En dit is boonop teen die Italiaanse klubspanne Benetton en Zebre Parma, wat onderskeidelik 13de en 16de op die puntelys is.

Maar soos die Sharks self op sosiale media gesê het: “Taai nederlaag in Skotland. Tyd om te besin en na die 26/27-seisoen toe te werk.”


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie