W-Kaapse vrou 10 jaar tjoekie toe ná sy bejaardes bedrieg

Ter illustrasie. Foto: Katrin Bolovtsova/pexels.com
Ter illustrasie. Foto: Katrin Bolovtsova/pexels.com

Abigail Jooste, ‘n 38-jarige vrou van Firgrove in Somerset-Wes, is deur die streekshof in Plettenbergbaai tot 10 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat sy skuldig gepleit het op 94 aanklagte van bedrog en 30 aanklagte van geldwassery.

Sy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit ingevolge Artikel 103(1) van die Vuurwapenbeheerwet.

Volgens haar skulderkenning het Jooste in 2018 telefonies kontak gemaak met ’n vrou van De Rust wat ’n kredietkaarthouer by ’n Suid-Afrikaanse bank was.

Sy het die vrou mislei om internetbankdienste op te stel en daarna sonder haar medewete drie spaarrekeninge in haar naam geopen. Tussen 2 en 12 Oktober 2018 het Jooste sowat R56 000 uit die vrou se rekening na dié bedrieglik geopende rekeninge oorgeplaas.

Nadat sy die vrou se vertroue gewen het, is sy aan haar man voorgestel. Jooste het hom ook oorreed om internetbankdienste op te stel en het sodoende ook toegang tot sy bankrekeninge gekry.

Gedurende Oktober 2018 het sy verskeie ongemagtigde aanlyntransaksies en geldoorplasings vanaf die egpaar se rekeninge uitgevoer sonder hul kennis of toestemming.

Die geld is onder meer bestee by aanlyn- en afleweringsdienste soos Easy Swift LSD, E-Gift Solutions, Mr D, Subella, Tessa’s Bakery en Loot. Sy het ook bedrieglike “Cash Send”-transaksies na selfoonnommers wat in haar naam geregistreer was, uitgevoer. Dié geld het sy by kitsbanke in Somerset-Wes, Goodwood en Kaapstad onttrek.

Sy het ook lugtyd vir haarself gekoop met die slagoffers se geld.

Die bejaarde egpaar het uiteindelik ’n totale verlies van R94 374 gely.

Die vonnis stuur ’n sterk boodskap uit oor die ernstige gevolge van finansiële misdade, veral wanneer kwesbare en bejaarde slagoffers geteiken word.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie