Dis Saterdag, ’n Springbok-rugbyliedjie speel: “Hulle weet nie wat ons weet nie.”
Die woorde beskryf die Suid-Afrikaner-eienskappe: dapperheid, deursettingsvermoë, trots en vele meer.
Wat maak ons Suid-Afrikaners uniek?
Juis ons diversiteit as ’n nasie: Sport, kuns, kultuur, kosse, musiek en humorsin, veral ’n Afrikaanse grap, so eiesoortig as kan kom, is ’n toonbeeld daarvan.
Ons gasvryheid, vriendelikheid is onder meer wat alle besoekers telkemale ondervind.
Wanneer die Springbokke speel, sien jy ’n nasie wat verskil, maar tog bankvas agter hulle staan. Ons Bokke behoort aan almal en is ons trots.
Met heimwee sien ek hoe almal, ongeag hoe verskillend, ons nasionale volkslied sing. Vir my die mooiste in die hele wêreld.
My hart klop wanneer ek sien hoe vreemdelinge mekaar spontaan omhels, soms pink ek ’n traan. Suid-Afrika behoort aan ons almal wat wettig hier woon en hulself deel van hierdie land en samelewing gemaak het. Ons is immers self die produk van eeue gelede se immigrante wat hier wortelgeskiet en uiteindelik Suid-Afrikaners geword het.
Ons voorouers het juis vanweë veerkragtigheid en vasberadenheid oor die Drakensberge getrek.
Saterdae se mooi prentjie en euforie verdwyn egter op ’n Maandag na ’n minder mooi prentjie, veral nadat ’n mens die Sondag-media onder hande gehad het. Dan lyk die wêreld aan die brand.
Teen Donderdag lyk dit nog erger. Dit bekommer my hoe maklik ons teenoor mekaar opgesweep kan word.
Immigrante word geteiken, eiendom word geplunder en afgebrand, mense word uit wonings, werkplekke, plase gedwing, selfs vermoor.
Die ekonomie ly daaronder.
Daarom vra ek myself toenemend af: Word ons almal misbruik as ’n politieke speelbal?
Waarom het die “wit vlugteling”, immigrasie- en rassekwessie so skielik ’n sentrale onderwerp geword?
Wie trek voordeel daaruit wanneer ons teen mekaar draai?
Kom ons gee Suid-Afrika ’n regverdige kans om vir almal te werk. Ons gun dit aan ons nageslagte.
- Marianne Barnard, Umhlanga Ridge
Skryf aan Die Papier om deel te neem aan dié gesprek en vele ander:
Briewe moet die skrywer se naam, adres en kontaknommer bevat. Die Papier publiseer nie briewe wat reeds elders verskyn het nie.
